| |

Breek die grendel: AfriForum stel maatreëls voor vir verslapping van die staat van inperking

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan President Cyril Ramaphosa gerig waarin dié organisasie maatreëls vir die verslapping van die staat van inperking voorstel. In sy skrywe sê AfriForum dat die verslapping van die staat van inperking – wat op 23 April deur Ramaphosa aangekondig is – onvoldoende is om die skade te beperk wat deur die staat van inperking veroorsaak is en die land op die pad van herstel te plaas. Daarmee saam het AfriForum vandag ’n verslag genaamd Breek die grendel gepubliseer, waarin inhoud aan hierdie maatreëls gegee word en AfriForum se prioriteite onder hierdie omstandighede uitgestippel word.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat die staat se reaksie op COVID-19 binne die konteks van die regerende party se nasionale demokratiese rewolusie (NDR) beskou moet word. Die regerende party beoog met die NDR om al meer mag in die staat te vestig deur toenemend beheer oor staatsfunksies en instellings van die samelewing te verkry.

“Daar is geen twyfel nie dat die regering COVID-19 as ’n geleentheid beskou om – met ’n mate van oënskynlike morele regverdiging – ’n groot sprong in die bevordering van die NDR te maak,” sê Roets. “Dit is iets waarvan die publiek kennis moet neem en waarteen daar gewaak moet word.”

AfriForum stel die volgende vyf stappe voor in sy skrywe aan die President:

  1. ’n Gebalanseerde oplossing

Sterftes weens COVID-19 moet binne die bestaande werklikheid van mortaliteit in Suid-Afrika beskou word. ’n Reaksie op COVID-19 moet dus weerbare mense – en veral ouer mense – beskerm, maar moet rekening hou met die feit dat jonger mense aansienlik minder kwesbaar is vir die virus.

  1. Heraktivering van die ekonomie

Daadwerklike stappe moet gedoen word om die beperkings van mense se ekonomiese vryhede op te hef sodat mense weer kan werk, ’n inkomste kan genereer, hul werknemers kan betaal, salarisse kan ontvang en uiteindelik vir hul gesinne kos kan gee en belasting kan betaal.

  1. Herinstelling van burgerregte

Die regering behoort nou reeds die onderneming te gee dat burgerregte ten volle herstel sal word. Tweedens behoort die regering ook reeds met ’n verslappingsproses in dié verband te begin.

  1. Gemeenskappe moet bemagtig word om na hul eie belange om te sien

Die mees skreiende skending van gemeenskappe se vryhede is waarskynlik die feit dat hul verbied word om deur middel van buurtwagte na hul eie veiligheid om te sien. Dit is noodsaaklik om aan gemeenskappe die nodige vryheid te gee om na hul eie sake om te sien sonder dat die staat mikrobestuur toepas.

  1. Verbreking van staatsafhanklikheid

Eerder as om mense onder hierdie omstandighede meer afhanklik van die staat te maak, moet hul aangespoor word om vir ’n inkomste te werk. Om hierdie funksie te vergemaklik, behoort mense meer vryheid te geniet eerder as om onder mikrobestuur te funksioneer.

AfriForum verwelkom die boodskap van die Verenigde Nasies dat Suid-Afrika ‘n “giftige inperkingskultuur” geskep het met die “sterk gemilitariseerde” reaksie op COVID-19. Die VN se Hoëkommissaris vir Menseregte, Michelle Bachelet, het benadruk dat noodmagte nie ’n wapen moet wees wat regerings kan rondswaai om verdeeldheid teen te staan, die bevolking te beheer of selfs hul bewind onbepaald te laat voortduur nie. In die lig van hierdie boodskap is die brief van AfriForum aan president Ramaphosa van nog groter belang en selfs meer toepaslik, aangesien dit betrekking het op die verslapping van die staat van inperking.

Klik hier vir die verslag.

Soortgelyke plasings