|

Brexit hou implikasies vir Suid-Afrika in

Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) hou verskeie implikasies vir Suid-Afrika in.

“Twee van die belangrikste kwessies wat nou ter sprake gaan wees vir Suid-Afrikaners, is die verswakking van die Pond, asook die herstrukturering van Suid-Afrika se handelsooreenkoms met Brittanje,” het prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat (UV) gesê.

Volgens Willemse dui Brittanje se besluit op ʼn groeiende wêreldwye tendens. “Lande begin al hoe meer na hul eie belange omsien, met die doel om hul eie produkte en vaardighede te bevorder, eerder as om ander swakker lande ekonomies te subsidieer.”

Syfers dui daarop dat 51.9% van Britte gestem het om die EU te verlaat, terwyl 48,3% gestem het om te bly.

Hoewel David Cameron vroeër gesê hy sal aanbly as eerste minister van die Brittanje, ongeag die uitslag van Brexit, het hy kort ná die bekendmaking van die uitslag sy bedanking aangekondig en genoem dat hy in Oktober vanjaar vervang gaan word.

Volgens Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van AfriSake, sal die fokus vir die volgende paar maande ook wees op die tipe ooreenkoms wat Brittanje in terme van art. 50 van die EU-verdrag – wat handel oor onderhandelings indien die EU verlaat word – met die EU sal probeer onderhandel.

Greyling meen voorts lande soos Frankryk en Duitsland en die ander sal Brittanje se uittrede fyn dophou om te bepaal of hulle ook die EU moet verlaat.

“Die huidige toestand is baie onbestendig en moet met groot sorg benader word sonder om paniek in die sakewêreld en finansiële bedryf te veroorsaak, soos wat reeds die geval is,” het hy gesê.

Soortgelyke plasings