Buiteland neem toenemend standpunt in teen onteiening sonder vergoeding


AfriForum verwelkom die feit dat die wetgewende raad van Nieu-Suid-Wallis in Australië gister ’n mosie aanvaar het wat onteiening sonder billike vergoeding (OSV) ten sterkste veroordeel. Dié mosie lees onder meer dat die raad sterk veroordeling uitspreek teen a) enige oproep vir die moord op, marginalisering, vervolging, viktimisering of teikening van enige rassegroep in Suid-Afrika deur enige van die land se huidige of vorige amptenare, asook b) enige wetgewing wat grond op onregverdig wyse van enige persoon sonder regverdige en billike vergoeding ontneem.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, moet die Suid-Afrikaanse regering kennis neem dat hierdie mosie in Australië maar net die begin is van ’n intensiewe internasionale stryd wat onder internasionale beleggers en regerings teen OSV in Suid-Afrika gevoer sal word. Bailey voer aan dat die Suid-Afrikaanse regering – in die lig van buitelandse rolspelers se kennisname van die gevaarlike koers wat die ANC-regering inslaan met die beplande program van OSV en die gepaardgaande ekonomiese onsekerheid – sy planne om die Suid-Afrikaanse Grondwet ten koste van eiendomsreg te wysig dringend moet herbesin.

Bailey wys daarop dat AfriForum die afgelope vier maande bewusmakingsbesoeke aan talle meningsvormers in die VSA, Europa en die Verenigde Koninkryk afgelê en inligting aan rolspelers in Australië verskaf het. “AfriForum se boodskap was deurgaans dat ons wil toesien dat Suid-Afrika sal aanhou om buitelandse beleggings te ontvang, dat die ekonomie moet groei en daarmee saam ook werk- en welvaartskepping vir almal. Daarvoor is dit egter noodsaaklik dat buitelandse politici, ander meningsvormers en beleggers druk op die Suid-Afrikaanse regering moet plaas om eiendomsregte te beskerm,” sê Bailey.
Volgens Bailey het die meningsvormers met wie vergader is, insluitend senior politici van hoofstroompartye, joernaliste en dinktenknavorsers, AfriForum se kommer beaam. “Nie alleen stem die moontlike gevolge van enige ontkenning van eiendomsregte hulle onrustig nie, maar hulle is ook uiters bekommerd oor die gevolge wat ’n proses van OSV op politieke en maatskaplike stabiliteit, asook op voedselsekuriteit in die Suider-Afrikaanse streek gaan hê,” voeg Bailey by.

Dié mosie in Australië volg volgens Bailey kort op die hakke van ’n waarskuwing deur die kredietgradeerder Moody’s betreffende Suid-Afrika se fiskale tekort en swak ekonomiese groei in die land, asook die Internasionale Monetêre Fonds se waarskuwing dat onsekerheid oor eiendomsreg ’n bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomie inhou.

“Roekelose uitsprake wat geen insig in die komplekse aard van boerdery in die 21ste eeu toon nie, soos dié uitspraak vandeesweek oor die beperking van eienaarskap van grond deur die ANC-voorsitter Gwede Mantashe, dra tot toenemende buitelandse kommer, kritiek en standpuntinname by,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings