|

Buitelanders in besit van skaars reptiele gearresteer

Samewerking tussen AfriForum se Nuwerus-plaaswag en die SAPD in Malmesbury het op 9 September 2019 tot die suksesvolle arrestasie van twee Japannese burgers gelei wat vermoedelik skaars reptiele in Namakwaland stroop en dan uitvoer.

Die groot gordelakkedis, ook bekend as ’n skurwejantjie of ouvolk, is ’n hoogs bedreigde spesie en word dikwels teen reusebedrae na die VSA, Europa en Japan uitgevoer.

Die SAPD in Malmesbury het die verdagtes aanvanklik opgemerk en inligting versprei wat die plaaswag in staat gestel het om op die uitkyk te wees en die verdagtes se bewegings te moniteer. Dit het tot die inhegtenisname van die verdagtes gelei. Een van die verdagtes het ook ses van die reptiele in sy besit gehad.

“Hierdie is ’n groot sukses vir ons gebied. Die samewerking tussen ons en die SAPD was uitstekend en ons staan altyd gereed om die SAPD by te staan,” sê Amanda Visagie, koördineerder van AfriForum se Nuwerus-plaaswag.

* Indien ’n persoon skuldig bevind sou word op ’n aanklag van besit van een van dié reptiele sonder ’n permit, kan ’n boete of gevangenisstraf of albei opgelê word.

Soortgelyke plasings