|

Bulhond Gerrie Nel en Staal Burger beveg korrupsie saam

Staaal burger

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, word sedert sy aanstelling oorval met versoeke om korrupsie en ander klagtes te ondersoek.

Terwyl hy en sy span onverpoosd hiermee besig is, het hy egter ook sy weg oopgesien om sy karakter in die nuwe Staal Burger-radiodramareeks self te vertolk.

Staal Burger was ’n legendariese karakter wat Suid-Afrikaners in die jare 60 voor die radio vasgenael gehad het. Dit is nou terug in ’n splinternuwe radiovervolgverhaal wat op 33 gemeenskapsradiostasies landwyd uitgesaai word.

AfriForum borg die produksie van 26 episodes wat elk ’n halfuur lank is en Maroela Media is by die vervaardiging betrokke.

In die reeks is Staal Burger, wat deur André Retief vertolk word, en adv. Gerrie Nel, die nuwe Afrikaanse superhelde wat misdaad en korrupsie pak en hul kragte teen boosdoeners saamspan.

Die oorspronklike vervolgverhaal is deur wyle Fanus Rautenbach geskryf. Staal Burger was ’n geheime agent en sy handlangers was Willem en Dada. Hy was baie lief vir homself, meisies het aan sy lippe gehang en hy was nie bang om sy vuiste te gebruik nie.

Retief, die seun van Daan Retief, wat die rol van die oorspronklike Staal Burger vertolk het, en Frans Rautenbach, seun van Fanus, het die kopiereg op die nuwe Staal Burger.

Oor sy rol in die dramareeks sê Nel dat dit die verste was wat hy nog uit sy gemaksone was. Hy het met radiostories en Staal Burger grootgeword, maar om self by so iets betrokke te wees is baie opwindend, maar ook harde werk.

Martin Jansen, radio-omroeper by Pretoria FM, en Roelf van Jaarsveld is medeskrywers van die nuwe dramareeks. Ander bekende stemme sluit in Lochner de Kock, Anton Dekker, André Stoltz Andreas Jordaan, Karen Retief en Daniélle Retief.

 

 

 

 

Soortgelyke plasings