|

Burgerlikes ruk op om Gordhan te ondersteun

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag sy stem by ander burgerlike organisasies en vooraanstaande Suid-Afrikaners gevoeg wat kapsie maak teen die oënskynlik onbehoorlike optrede van die Valke om Pravin Gordhan, minister van finansies, te vervolg.

Dit kom nadat die Valke vandag geëis het dat Gordhan en twee voormalige werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) by hul kantore in Pretoria moet aanmeld. Luidens ’n waarskuwingsverklaring van die Valke het Gordhan glo drie wette oortree toe hy kommissaris van die SAID was. Dit sluit in die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies, die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede en die Wet op Nasionale Strategiese Intelligensie.

“AfriForum is van mening dat die aanklagte teen Gordhan ongegrond is. Dit blyk dat die Valke met ʼn heksejag teen die minister besig is en alles in hul vermoë doen om hom te verhoed om sy werk te doen,” sê Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum.

“Die optrede van die Valke kom neer op ʼn heksejag en dit het ernstige implikasies vir toekomstige reg en geregtigheid in die land. Suid-Afrika se beeld en die ekonomie is ook in gedrang,” meen Maree.

Gordhan het geweier om aan die Valke se versoek te voldoen.

Oudregter Johann Kriegler, adv. George Bizos, verteenwoordigers van die Helen Suzman Stigting en ander burgerlike organisasies waaronder Right2Know en Section 27 het ook buite die genl. Piet Joubert-gebou in Pretoria ter ondersteuning van Gordhan en die SAID-amptenare byeengekom.

Kriegler het aan Forum Nuus gesê dat die aantygings teen die minister kennelike en tasbare snert is en dat diegene wat dit maak, dit ook weet. “Dit is skuiwe en foefies wat gemaak word om Gordhan te probeer uitwerk uit sy posisie. Die ondersoek is eensydig en hou nie water hou nie.”

“Die Suid-Afrikaanse burgery van alle politieke oortuigings moet wys dat hulle nie meer geduld het met diegene wat agter die komplot sit nie. Nie ons as burgers, óf die minister, verdien dit nie.”

Die menseregte-aktivis en regsgeleerde adv. George Bizos het aan die media gesê die aantygings is ongegrond en hy glo dat geregtigheid sal geskied.

Hy het voorts gesê die Valke se optrede het ekonomiese implikasies en mense se vertroue in die regering neem verder af.

Volgens Carol Mohlala, ʼn lid van Right2Know, is die saak teen die SAID-amptenare ʼn belangrike kwessie wat op die Suid-Afrikaanse demokrasie reflekteer. “Ons moet opstaan vir ons en andere se demokratiese regte en waardes.”

Mohlala glo in Gordhan se onskuld en meen hy moet uitgelos word om die land se ekonomie te bestuur.

 

Soortgelyke plasings