|

Buurtwag kry gesteelde motor binne 2 ure

AfriForum se sektor 5-buurtwagte in Bloemfontein het gisteraand groot sukses behaal en binne twee ure ’n gesteelde motor in Fichardtpark opgespoor.
Sektor 5 bedien die woongebiede Hospitaalpark, Fichardtpark en Pellissier in die stad.
Joseph Renaud van die Hospitaalpark-buurtwag, het gesê daar is omstreeks 20:00 ’n boodskap op hul Whatsapp-groep gestuur dat ’n motor by ’n sportklub in Fichardtpark gesteel is. Die boodskap is dadelik versprei na al drie buurtwagte in sektor 5 en dit is bekend gemaak dat die voertuig byna geen petrol ingehad het nie.

Buurtwagvoertuie van sektor 5 is dadelik ontplooi en ’n voertuig is gestuur na elke petrolstasie in omligende buurte met die doel om die verdagtes te vang indien hulle petrol in die vermiste voertuig sou wou ingooi. Sektor 5 se sekuriteitsvennote Bloemsec, ITR, Securiforce en Nissi, wat radio’s in hul voertuie het, het ook onmiddellik ingespring en begin help met die soektog.

Buurtwagvoertuie is ook in die rigting van Batho en Rocklands gestuur omdat baie gesteelde motors dikwels hierheen gebring word.
Omstreeks 21:00 het Fichardtpark-buurtwag ’n leidraad gekry dat die vermiste motor moontlik in die parkeerterrein van die Casino in die area kan wees. Twee voertuie is toe uitgestuur om ondersoek in te stel.

Die gesteelde motor is toe gevind in die parkeerterrein en die eienaar en polisie is verwittig. ’n Saak is geopen en die voertuig is tans by die polisie vir vingerafdrukontleding. Die sekuriteitskameras by die Casino kon weens die posisie van die motor nie die verdagtes optel nie.
Renaud het aan Forum Nuus gesê dat die samewerking van die drie buurtwagte die sleutel tot hul sukses is. “Die drie buurtwagte is afhanklik van mekaar om suksesvol te funksioneer”, het hy gesê. Hy het bygevoeg dat bewusmaking en ondersteuning van die gemeenskap bydra tot hul sukses.

Johann Hattingh, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Wes-Vrystaat, het gesê dat die samewerking tussen die polisie, die sektor 5-buurtwagte asook die plaaslike sekuriteitsmaatkappye duidelike voorbeelde is van hoekom gemeenskappe verantwoordelikheid moet neem vir hul veiligheid. “Inwoners moet meer betrokke raak en nie net staatmaak op die SAPD vir hul veiligheid nie. Dan sal meer deurbrake soos dié moontlik wees.”

Renaud het voorts gesê buurtwagte het altyd bykomende lede nodig. Belangstellendes wat betrokke wil raak, kan meer inligting op die facebookblad, AfriForum Buurtwag – Sektor 5, kry.  Hulle kan ook “Bloem buurtwag” SMS na 45266 (R1).

Soortgelyke plasings