| | |

Buurtwagte ervaar teenstand van SAPD op grondvlak om aktiwiteite te hervat

AfriForum-buurtwagte in die Wes-Kaap ervaar tans heftige teenstand van senior SAPD-beamptes op sowel distriks- as stasievlak om weer hulle gebiede te beveilig nadat adv. Albert Fritz, Wes-Kaapse Minister van Gemeenskapsveiligheid, op 1 Junie 2020 aangekondig het dat buurtwagte weer hul pligte kan hervat. Buurtwagte was ingevolge regulasies nie operasioneel tydens vlak 4 en vlak 5 van die inperking nie.

“AfriForum se buurtwagte in die Wes-Kaap het van oraloor laat weet dat die SAPD op stasievlak daarteen gekant is dat patrollies mag hervat. Streng gesproke berus die regulering van buurtwagte by die onderskeie provinsiale departemente van gemeenskapsveiligheid en nie by die Minister van Polisie nie – al matig Bheki Cele hom aan om op hierdie gebied insette te lewer,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek.

Volgens Van Dalen is dit duidelik dat die wysigings aan die wetgewing en regulasies nie aan senior SAPD-lede gekommunikeer is nie. Regulasies 33(1) wat Nkosazana Dlamini Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, op 28 Mei 2020 uitgevaardig het, stel duidelik dat mense hul woonplekke mag verlaat om spesifieke dienste te lewer (met uitsondering van aktiwiteite soos genoem in tabel 2 van die regulasies). “Buurtwagte word nie in hierdie tabel genoem nie en daar is dus nou geen regulasie wat buurtwagte belet om hul patrollies te hervat nie.”

“In die lig van die 19 000 gevangenes wat voortydig op parool vrygelaat is, asook die styging in diefstal, roof en huisbraak, en die SAPD se onvermoë om gewone misdaad te bekamp, is dit van uiterste belang dat buurtwagte onmiddellik met hul take moet voortgaan om hulle gebiede te beskerm,” sê Van Dalen. AfriForum tref al die nodige maatreëls om te verseker dat die organisasie se buurtwagstrukture verantwoordelik optree en dat die voorgeskrewe gesondheidsprotokolle nagekom word.

Word deel van AfriForum se veiligheidstrukture: SMS “Veiligheid” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings