|

Buurtwagte in Kempton Park en Edenvale voeg die daad by die woord

AfriForum se Kempton Park-buurtwag het die afgelope naweek in samewerking met die SAPD, die Ekurhuleni-metropolisie, die plaaslike GPF en verskeie sekuriteitsmaatskappye aan klopjagte in die Kempton Park-omgewing deelgeneem.

Ongeveer 30 individue het aan dié klopjagte deelgeneem waartydens 113 mense, vyf persele en 89 voertuie deursoek is. Tydens die klopjagte is drie arrestasies gemaak, onder meer vir dwelmbesit en dronkbestuur. Die buurtwag het ook in samewerking met die SAPD op onwettige drank beslag gelê.

“Klopjagte soos hierdie wat deur die SAPD van stapel gestuur word is van kardinale belang in gemeenskappe om samewerking en sigbaarheid op te skerp en kriminele elemente in die gebied hok te slaan,” sê Dirk Venter, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-buurtwag.

“AfriForum wil die SAPD en alle ander instansies wat aan hierdie klopjagte deelgeneem het bedank. Hul uitstekende samewerking en goeie koördinering tydens hierdie optredes maak suksesse moontlik,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

AfriForum se Edenvale-buurtwag het ook die afgelope naweek ’n klopjag in die Edenvale-omgewing uitgevoer in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF en verskeie sekuriteitsmaatskappye.

Tydens dié klopjag is vyf arrestasies gemaak, onder meer vir die besit van onwettige vuurwapens waarop beslag gelê is. Nagenoeg 60 individue het aktief aan die klopjag deelgeneem.

“Hierdie klopjagte is ’n voorbeeld van ’n sterk veiligheidsnetwerk onder leiding van die SAPD. AfriForum moedig die gemeenskap aan om by bestaande veiligheidstrukture in hul gebied betrokke te raak en proaktief tot hul eie veiligheid by te dra,” sê Linda McKenzie, voorsitter van AfriForum se Edenvale-buurtwag.

Soortgelyke plasings