|

Calvinia juig ná water en voer dorp bereik

Die meer as 10 000 inwoners van die droogte geteisterde Calvinia in die Noord-Kaap het die naweek gejubel ná AfriForum en verskeie organisasies met water en voer tot die gemeenskap se redding gekom het.

Tydens fase 1 van die Calvinia Waterprojek is sowat 400 000 liter water, 300 bale voer en 100 sakke aartappels afgelewer.

Gemeenskappe regoor Suid-Afrika het water ingesamel vir Calvinia wat vragmotors op 5 verskillende roetes opgelaai en by Calvinia afgelewer het.

“Op elke roete en op elke dorp waar ons gestop het, is daar meer water deur die betrokke gemeenskap aangedra as waarvoor daar oorspronklik beplan is. Die samewerking en betrokkenheid van gemeenskappe is só oorweldigend dat fase 2 van dié projek binnekort uitgevoer kan word,” het Hein Gonzales, koördineerder van dié projek, gesê.

Tydens fase 1 van die projek het 15 vragmotors water na Calvinia vervoer. Altesame 9 727 kilometer is afgelê en R320 991 se diesel is uitgery. Voer is ook afgelewer wat groot verligting vir boere gebring het.

Ander organisasies wat by die projek betrokke is, is Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand, AfriForum Jeug, Caring Daisies, Water Shortage SA en Ctrack.

Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, het gesê dit was verblydend om te sien hoe die hele Suid-Afrika saamgewerk en saamgestaan het om water vir Calvinia in te samel. “Gebeurtenisse soos hierdie skep werklik hoop vir die land en wys wat gemeenskappe kan doen as hulle na mekaar uitreik.”

Anita Erasmus, bemarkingsbeampte van AfriForum, het gesê dit het haar diep geraak om te sien hoe dankbaar die inwoners oor die water was, terwyl soveel mense dit elders in die land as vanselfsprekend aanvaar. “Ons het ook hier gesien hoe verskriklik droog die damme in die omgewing is. ’n Mens se hart gaan uit na hierdie gemeenskap wat so lank al so swaar kry. AfriForum het ook verneem dat Williston, wat sowat 120 kilometer van Calvinia is, ook nou ernstige watertekorte het.”

Erasmus het die hoop uitgespreek dat daar ook baie water vir fase 2 ingesamel sal word. Inligting hieroor is beskikbaar by www.noodfonds.co.za

Die publiek kan ook betrokke raak deur “NOOD” te SMS na 38312 (R10) om tot die noodfonds by te dra.

Soortgelyke plasings