Centurion-inwoners: Los ons grond


Sowat ‘n duisend lede van die gemeenskap het gisteraand by Leriba Lodge in Centurion, Pretoria, vergader om aan AfriForum ’n formele mandaat te gee om die residensiële grondeis in Centurion teen te staan.
Dit volg ná ’n grondeis in Junie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is, wat ongeveer 4 000 hektaar se onroerende eiendom raak en nagenoeg 2 000 huisgesinne betrek.
AfriForum het sy dertienpuntplan tydens hierdie vergadering bekend gestel en sal verskeie ander aksies van stapel stuur om die gemeenskap te ondersteun in die stryd om die grondeis teen te staan. Dít sluit in om regshulp in te win om hierdie eis te beveg.

“AfriForum tree tot die saak toe omdat honderde eiendomseienaars – wat hard gewerk het vir wat hulle het – se eiendomsreg deur ’n grondeis sonder meriete bedreig word. Politici het onrealistiese verwagtinge oor grond by hul ondersteuners geskep en AfriForum gaan beslis nie terugstaan en toekyk hoe wettige grondeienaars die prys hiervoor betaal nie. Ons sal hierdie ongegronde grondeis met alle meganismes tot ons beskikking teenstaan,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

AfriForum het reeds ’n versoek aan die relevante kommissie gerig en uitstel versoek om voorleggings teen die gemelde eis te lewer. Volle en nadere besonderhede rakende dié eis is ook versoek.

“As burgerregtewaghond sal AfriForum voortgaan om die stryd vir die beskerming van eiendomsreg te stry. Ons sal aanhou om gemeenskappe by te staan en van raad te dien in hierdie kwessie. Eienaars kan nie weens gulsigheid ontneem word van hul eiendom wat wetlik bekom is nie,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Lede van die publiek kan www.afriforum.co.za/grondeis/ besoek om te bepaal of hulle eiendomme geraak word.

Soortgelyke plasings