|

Chaos heers op universiteitskampusse

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Toegang tot ’n universiteit behoort ’n reg, en nie ’n voorreg te wees nie.”

Só het adj.pres. Cyril Ramaphosa vandeesweek by ’n beraad oor transformasie gesê wat deur die departement van hoër onderwys en opleiding in Durban gehou is.

Ramaphosa het hom uitgespreek oor die invloed wat apartheid op tersiêre onderrig tot dusver gehad het. Hy het studiegelde, institusionele kultuur en taal as struikelblokke vir huidige Suid-Afrikaanse studente verklaar.

Vandeesmaand het chaos op verskeie universiteitskampusse uitgebreek oor die verhoging van klas- en registrasiegelde en die gebrek aan transformasie.

Ramaphosa meen dit vind glad nie of teen ’n te stadige pas plaas.

Op 30 September het die Universiteit van Pretoria se verteenwoordigende studenteraad (VSR) ’n optog oor die drastiese verhoging van registrasiegelde gehou. Verskeie studenteverenigings, insluitend AfriForum Jeug, het deelgeneem aan die optog. Die VSR het ‘n memorandum opgestel wat die huidige fooi-verhoging vir plaaslike en internasionale studente bevraagteken omdat dit nie volgens gewone inflasie-tariewe verhoog is nie. Die studenteraad het die memorandum aan prof. Themba Mosia, hoof van studentesake, oorhandig, wat dit namens prof. Cheryl de la Rey, rektor, ontvang het.

Studente was egter ontevrede omdat die rektor nie teenwoordig was nie om die memorandum te ontvang. Die studenteraad het vandeesweek weer vergader met die bestuur van die universiteit, maar weens die afwesigheid van die rektor, het hulle egter besluit om verdere onderhandeling oor registrasiegelde op te skort totdat De la Rey beskikbaar is.

AfriForum Jeug Tuks gaan volgende week ‘n petisie begin wat studente aanmoedig om die moontlike verhoging van registrasiegelde teen te staan.

Finansies het ook studente by die Universiteit van Witwatersrand vandeesweek in opstand laat kom nadat die universiteit aangekondig het dat sy fooie met 10,5% gaan styg. Studente het sedert Woensdag betoog en die kampus tot stilstand gedwing. Klasse is opgeskort.

Prof. Adam Habib, rektor van Wits, is luidens mediaberigte van  Durban oppad terug om die chaos by sy universiteit te pak.

Prof. Belinda Bozzoli, die DA se skaduminisiter van hoër onderwys, het in ’n verklaring gesê dat die ANC se gebrek om genoegsame fondse vir tersiêre onderrig beskikbaar te stel, ’n gevoel van minagting onder jong mense in Suid-Afrika skep.

Bozzoli het gesê verlede jaar is ’n verslag getiteld: Report of the Ministerial Committee for the Review of the Funding of Universities bekendgestel, wat bewys het dat universiteite in Suid-Afrika onderbefonds is deur die regering. Die verslag het gewys die staat se befondsing het tussen 2000 en 2001 met 1,1% per heeltydse student afgeneem, terwyl studiegelde jaarliks met 2,5% in dieselfde tydperk gestyg het.

Volgens Bozzoli het die minister versuim om die bevindinge in ag te neem, wat gelei het tot die huidige wydverspreide toename in studente-protesaksies in die land. “Dit is tyd dat die minister verantwoordelikheid neem en  kragtige en beslissende optrede aankondig.”

’n Nuwe studentegroep, ReformPuk, het vandeesweek opgespring met die doel om Afrikaanse kultuur by die Noordwes-universiteit te “transformeer”. Die groep het ’n memorandum met verskeie eise aan die prof. Dan Kgwadi, visekanselier, oorhandig.

Van die eise sluit in die afskaffing van tolkdienste, die afskaffing van Afrikaans as primêre onderrigtaal en die onmiddellike verwydering van die Totius-standbeeld op die kampus. Die groep meen dat mense wat Tswana-sprekend is ook geakkommodeer moet word, omdat dit die taal is wat deur die meeste mense in die provinsie gepraat word.

Jeanett Mosala, ‘n lid van die groep, het gesê tolkdienste is  vernederend. Dit veroorsaak segregasie op die kampus, het sy gesê.

Kgwadi het studente wat die memorandum oorhandig het, aangemoedig om aan te hou veg. In reaksie hierop het AfriForum Jeug ’n amptelike klag van aanhitsing tot openbare geweld by die polisie teen hom ingedien. Die Solidariteit Beweging en die Pro-Puk groep wil ook ondersoek instel na of Afrikaanse studente op die PUK geviktimiseer word.

Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit en lid van die Pro-Puk-groep, het gesê hulle verwag dat die universiteit teen studente moet optree wat dreig om die kampus onregeerbaar te maak.

Die studenteraad het in ’n poging om ’n platform te skep waar alle studente hul klagtes aan die visekanselier kan rig, ’n Facebook-blad geskep genaamd #BreekDieStilte. Die studenteraad vra dat studente op ‘n verantwoordelike manier hul opinies moet lug.

In ’n video wat op die blad geplaas is, sê die VSR-president, Paul Maritz: “Ons vra jou om jou opinie van ons kampus op hierdie blad te plaas, goed of sleg. Wees egter verantwoordelik, ons sal geen vernederende kommentaar duld nie.”

Alana Bailey, adjunk uitoerende hoof van AfriForum, beskou Ramaphosa se uitlatings as gevaarlik omdat dit onuitvoerbare verwagtinge skep. “Tans word nuwe universiteite gebou, byvoorbeeld Sol Plaatjie in die Noord-Kaap, maar steeds is die infrastruktuur op tersiêre vlak veels te min om aan almal wat vrystelling het en wil studeer, toegang te gee.”

Sy het voorts gesê studente word speelballe in ‘n ideologiese stryd tussen die akademie, die privaatsektor en die ANC – ’n situasie waarin niemand sal wen nie.

“Nzimande het vroeër vanjaar tydens ’n studente-betoging gesê studente moet beurse eis by groot maatskappye, dis nie die staat se verantwoordelikheid nie. Dit is onverantwoordelik om sulke tipe uitlastings te maak omdat dit die huidige spanning op kampusse landwyd vererger,” sê Bailey.

Intussen het Nzimande verder gal gebraak oor die Universiteit van Stellenbosch deur aan te voer dat die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium ’n “uitsluitingstegniek” is.

Marcus Pawson, woordvoerder van AfriForum Jeug, het gesê van die oorspronklike 32 universiteite in die land, is nog net een kampus Afrikaans. “Die probleem is minderhede soos Afrikaners word nie meer toegelaat om in hul moedertaal onderrig te kry nie. Mag ons dan nie eens net een universiteit behou wat voorgraadse studie in Afrikaans aanbied nie?”

Pawson het gesê Nzimande moet aanvaar dat Afrikaans ook ’n Afrikataal is.

Soortgelyke plasings