|

Chaos kring uit by Elsenburg-landboukollege

Afrikaanssprekende studente by die Elsenburg-landboukollege is vandag geviktimiseer en gevloek deur ’n groep mede-studente wat die hoofgebou glo bestorm en opnuut net onderrig in Engels geëis het.

Julian du Plessis, een van die studente, het gesê die oproerige studente het na agtuur by die ontvangs van die kollege ingestap waar hulle saamgedrom het.

Hy het ’n video-opname met sy selfoon gemaak waarna hulle hom wou bestorm. “Hulle was baie aggressief en het ons gevloek.”

Volgens du Plessis is klasse ook ontwrig en onbepaald opgeskort. “Die situasie is besig om onhoudbaar te word. Ons is in die middel van toetse, prakties en ons studies word ontwrig.”

Du Plessis meen daar is al hoe meer ontevredenheid oor swart studente se optrede. “Baie van hulle het beurse en betaal nie self vir hul studies nie. Dit is vir ons onaanvaarbaar dat ons nie met klasse kan voortgaan soos ons moet nie. Dit begin ook al hoe meer lyk of onderrig in Afrikaans net as ’n verskoning gebruik word om klasse te ontwrig.”

Hy het bygevoeg dat studente en personeel toenemend onveilig voel weens die ontwrigtings.

Soortgelyke ontwrigting het twee weke gelede voorgekom.

Dit het daartoe gelei dat die departement van landbou, bosbou en visserye in die Wes-Kaap toe ’n taalbeleid van uitsluitlik Engels aangekondig nadat daar vroeër op ’n 50/50-taalbeleid ooreenkom is. Nadat AfriForum Jeug hieroor kapsie gemaak het, is die 50/50-taalbeleid toe hangende verdere ondersoek weer ingestel.

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het vandag ’n skrywe aan Marius Paulse, hoofdirekteur: gestruktureerde landbou onderwys en opleiding in die Wes-Kaap en Alan Winde, provinsiale LUR vir landbou en ekonomiese ontwikkeling, gestuur waarin die optrede van studente veroordeel word en ingryping geëis word.

“Die stakende studente ontneem ander studente hul reg op onderrig en rassespanning word deur hul optrede op die kampus aangeblaas,” meen Maree.

Volgens hom het voriges skrywes in die verband niks opgelewer nie.

“AfriForum Jeug eis nou dat bestuur teen studente optree wat hulle aan onwettige en onbehoorlike gedrag skuldig maak.

“Die leier van die betogende studente, Sabelwesihle Ngcobo, moet onmiddellik verhoor en geskors word en studente wat op die studenteraad dien en oortree, moet ook van die raad geskors word.”

AfriForum Jeug eis ook dat die bestuur in die omstandighede verantwoordelikheid vir die veiligheid van studente en personeel moet neem.

Maree het gesê die organisasie sal hom tot die hof wend indien daar nie teen Maandag op die eise gereageer is nie.

Klik hier vir die video opname: http://youtu.be/1XQwCbYp86E

 

Soortgelyke plasings