|

Clover-aanvalle: Borgaansoek geweier en nog ’n beskuldigde gearresteer

AfriForum verwelkom die feit dat landdros Karien Brits vandag in die Tembisa Landdroshof Mohale Shokane en Nkosinathi Mbatha, die twee beskuldigdes wat aangekla word van onder meer die moord op Terence Tegg, asook poging tot moord op J.J. Cassanga, se aansoek om borgtog geweier het. Kapt. Robert George Seckle, die ondersoekbeampte in die saak het ook aan die privaatvervolgingseenheid gesê dat hy vanoggend nog ’n beskuldigde gearresteer het wat op 21 April in die hof moet verskyn. Die saak is voorlopig op die rol geplaas vir 23 Junie 2022 om die Staat toe te laat om die ondersoek af te handel.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Michele Bebbington, wat verloof was aan Tegg, en die Cassanga-familie by kragtens ’n waaksaamheidsopdrag.

Shokane en Mbatha word aangekla van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en kwaadwillige saakbeskadiging. Dit sluit onder meer misdade in wat sorteer onder Skedule 6 van die Strafproseswet 51 van 1977 wat beteken dat die onus op die beskuldigdes rus om te bewys dat daar buitengewone omstandighede bestaan oor waarom dit in die belang van geregtigheid is dat hulle op borgtog vrygelaat moet word.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het aangedui dat dit ’n baie positiewe verwikkeling is en daarop dui dat die Staat ’n prima facie saak teen die beskuldigdes het. “Ons voel dat geregtigheid vandag geseëvier het en stem saam met die landdros dat die beskuldigdes geen buitengewone omstandighede kon bewys om hul vrylating op borgtog te regverdig nie. Ons wil ook die ondersoekbeampte komplimenteer met die inhegtenisneming van nog ’n beskuldigde en stem saam met die landdros dat hy ’n onwrikbare getuie tydens die borgaansoek was.”

Landdros Brits het ook in haar uitspraak daarop gelet dat die hof nie anders kan as om te oorweeg waarom die beskuldigdes nié wou hê dat die hof die beeldmateriaal van die betrokke voorvalle moes besigtig nie. Dit volg nadat die verdedigingspan tydens die borgaansoek aanvanklik aangedui het dat hulle die beeldmateriaal in die hof wil wys, maar ná konsultasie met hul kliënte hierdie aansoek onttrek het. Die hof het ook bevind dat die gevaar bestaan dat die beskuldigdes met die ondersoek kan inmeng omdat hul ondersteuners tydens die borgaansoek probeer het om vir kapt. Seckle te intimideer, dat hulle ’n vlugrisiko inhou en dat die groep wat vir Tegg en Cassanga aangeval het duidelik die aggressors in die situasie was.

Soortgelyke plasings