|

Clover-aanvalle: Borgaansoek steeds nie afgehandel

Die verrigtinge in die borgaansoek van Mohale Shokane en Nkosinathi Mbatha, die twee beskuldigdes wat aangekla word van onder meer die moord op Terence Tegg, die oud-Recce wat tydens die Clover-staking dood is, asook poging tot moord op J.J. Cassanga, een van die wagte wat ernstige beserings tydens die brutale aanval opgedoen het, is weer eens vandag tot 13 April uitgestel. Dit volg nadat die ondervraging van die staatsgetuie, kapt. Robert George Seckle vandag afgehandel is, maar die beskuldigdes se regsverteenwoordigers aangedui het dat hulle nie gereed is om vandag te argumenteer nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans, kragtens ’n waaksaamheidsopdrag, vir Michelle Bebbington by wat verloof was aan Tegg, asook vir die Cassanga-familie.

“Ons is tevrede dat sowel die ondersoekbeampte, kapt. Seckle, as die aanklaer ’n sterk saak daargestel het oor waarom die beskuldigdes se aansoek om borgtog nie kan slaag nie. Dit is belangrik om te onthou dat, in ernstige misdade soos hierdie, die onus op die beskuldigdes rus om te bewys dat daar buitengewone omstandighede bestaan wat, in die belang van geregtigheid, hul vrylating toelaat. Landdros Karien Brits het hierdie feit ook vandag aan die verdedigingspan uitgewys. Ons is oortuig dat die toestaan van borgtog nie in belang van geregtigheid is nie.” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Mbatha se regsverteenwoordiger het vandag tydens die kruisondervraging van kapt. Seckle aangevoer dat sy kliënt aan hoë bloeddruk ly, maar die kaptein het daarop gewys dat die betrokke beskuldigde nog nooit medikasie vir hierdie toestand versoek het nie. Die hof het ook gehoor dat Mbatha ’n spesiale dieet moet volg en daarom op borg vrygelaat behoort te word. Verder is sy klaarblyklike kondisie as rede aangevoer dat Mbatha volgens sy weergawe probeer vlug het van die opskudding wat die staking veroorsaak het omdat hy “hoë-energie situasies” probeer vermy en bloot op die perseel waar hy gearresteer is, weggekruip het om hieruit te ontsnap. Kapt. Seckle het egter daarop gewys dat daar duidelike beeldmateriaal is waar Mbatha uit die perseel waar hy weggekruip het, probeer ontsnap voordat hy deur die SAPD gearresteer is.

In antwoord op ’n stelling dat die stakers of die beskuldigdes nie gewelddadig is nie, het kapt. Seckle getuig dat hy deur die stakers by die hof gedreig is en dat die verdedigingsadvokaat hom daarvoor om verskoning gevra het. Seckle het aangevoer dat as hulle hom kon dreig getuies des te meer kwesbaar is vir dreigemente.

Kapt. Seckle het, in antwoord op vrae wat die hof aan hom gestel het, geantwoord dat daar, vanuit die beeldmateriaal, geen bewyse is dat enigeen van die beskuldigdes probeer het om hulself van die groep wat die aanvalle op Tegg en Cassanga geloods het te disassosieer nie en ook dat hulle geensins probeer het om die aanvalle op die slagoffers te keer nie.

Soortgelyke plasings