|

Clover-aanvalle: Borgaansoek van drie beskuldigdes vorder

AfriForum se privaatvervolgingseenheid was vandag weer in die Thembisa Landdroshof om vir Michele Bebbington, asook die Cassanga-familie, te verteenwoordig. Die borgaansoek van Lesiba Mantsi, Melford Rammutla en Ralph Shingane het vandag hervat nadat dit op 6 Junie 2022 uitgestel is. Die aansoek is op die vorige geleentheid uitgestel omdat die verdediging ’n aansoek gebring het vir toegang tot die beeldmateriaal van die voorvalle. Die hof het hierdie aansoek van die hand gewys.

Dié drie beskuldigdes, asook Mohale Shokane en Nkosinathi Mbatha (wie se borgaansoeke reeds van die hand gewys is), word aangekla van onder meer die moord op Terence Tegg, die oud-Recce wat tydens die Clover-staking op 17 Februarie 2022 vermoor is, asook poging tot moord op J.J. Cassanga, een van die wagte wat ernstige beserings tydens die brutale aanval opgedoen het.

Die staat het, soos tydens die borgverrigtinge van die eerste twee beskuldigdes, vir die ondersoekbeampte, kapt. Robert George Seckle, geroep om te getuig. Hy het getuig oor die besonderhede van die voorval, asook dat daar beeldmateriaal is wat die drie beskuldigdes op die tersaaklike tyd op die toneel plaas. Seckle het getuig dat die SAPD vir Mantsi, Rammutla en Shingane gearresteer het toe hulle weer, ná afloop van die staking, by Clover opgedaag het om heraangestel te word.

“Ons verwelkom die hof se bevinding dat die beskuldigdes nie vir doeleindes van die borgaansoek geregtig is op die beeldmateriaal nie. Ons wil ook vir kapt. Seckle komplimenteer met die getuienis wat hy gelewer het, asook die aanklaer, adv. L. Randima wat die borgaansoek namens die Nasionale Vervolgingsgesag hanteer. Die eenheid is vol vertroue dat die borgaansoek binnekort afgehandel sal word en dat die strafsaak sal kan begin met al die nodige beskuldigdes voor die hof,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die borgaansoek sal op 11 Julie 2022 voortgaan.

Soortgelyke plasings