Coligny tans rustig – AfriForum moniteer die situasie


AfriForum raai mense aan om paraat te bly na vandag se onluste wat in Coligny uitgebreek het na afloop van die suksesvolle borgaansoek in die saak teen Pieter Doorewaard en Phillip Schutte. Die dorp is tans rustig soos bevestig deur AfriForum-veiligheidstrukture en die polisie op grondvlak.
Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het die polisie gesukkel om oproeriges uit die dorp te verwyder, maar handhaaf tans orde. Groot skade is aan verskeie eiendomme aangerig en brande is ook gestig.

“Ongelukkig is dit so dat betogers momentum gekry het, maar daar is ’n baie groot polisieteenwoordigheid op die dorp en volgens Khomotso Phahlane, die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), is daar versterkings oppad.”

AfriForum het ook ’n privaat sekuriteitsmaatskappy betrek om die gemeenskap by hul eiendomme te beveilig.

“Ek wil asseblief vir mense vra om nie enige fopnuus of vals berigte te versprei of reg in hul eie hande te neem nie. Mense kan wel hulself en hul eiendom te beskerm binne die raamwerk van die reg. Die gemeenskap moet verantwoordelik optree deur by bestaande plaas- en buurtwagte in te skakel wat weet hoe om hierdie situasies te hanteer. AfriForum sal binne die volgende 24 uur nog afgevaardigdes na Coligny stuur om die gemeenskap by te staan,” sê Cameron.

Indien jy meer wil weet gaan na AfriForum se Facebookblad of volg ons op Twitter by @AfriForum en @IanCameron23.

Soortgelyke plasings