| | |

COVID-19-taakspan voorsien voedsel aan Coligny-gesinne

Die COVID-19-taakspan – gestig deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai – het op 12 Junie 2020 in samewerking met die Mark Fish Foundation en die Willow Valley-hoenderplaas voedsel aan meer as 100 gesinne in Coligny geskenk nadat die AfriForum-buurtwag in dié dorp die taakspan van die nood ingelig het. Die taakspan het bokse met ’n maand se kosvoorraad aan elke gesin geskenk om hul voedselnood te help verlig.

Sandra van Zyl, eienaar van Willow Valley buite Ventersdorp, het 1.2 ton eiers geskenk, wat saam met die kos uitgedeel is.

Volgens Ian Cameron, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is dit goed dat AfriForum se gevestigde strukture die taakspan om hulp nader. “Die COVID-19-taakspan tree in waar die regering van mense vergeet en ons hoop dat dié skenkings verligting vir die gesinne sal bring. Die nood in gemeenskappe is groot en ons is dankbaar vir elke persoon en boer se skenking,” sê Cameron.

Die taakspan het vandeesweek ook in samewerking met Solidariteit Helpende Hand gehelp om etlike ton kos in Gauteng na Helpende Hand se Josef Silo’s te vervoer. Helpende Hand sal dié kos vanuit die Josef Silo’s na mense in nood versprei.

Mense wat skenkings of finansiële bydraes wil maak, kan AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid by trauma@afriforum.co.za kontak.

Soortgelyke plasings