| | |

COVID-19-taakspan voorsien weer voedsel aan Coligny-gesinne

Die COVID-19-taakspan – gestig deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai – het vandag in samewerking met die Willow Valley-hoenderplaas en Easy Greens Farming and Farm Produce voedsel aan 70 gesinne in Coligny geskenk. Die taakspan het ’n maand se kosvoorraad aan elke gesin geskenk om hul voedselnood te help verlig.

Sandra van Zyl, eienaar van Willow Valley buite Ventersdorp, het 0,5 ton eiers geskenk, terwyl Easy Greens Farming and Farm Produce 2 ton aartappels geskenk het, wat saam met die kruideniersware uitgedeel is. Laeveld Agrochem het 300 sakkies groentesaad van 1 kg elk geskenk, wat elk ongeveer 250 kg groente kan lewer.

“Ons is dankbaar om die voedselnood saam met ons vennote die hoof te kan bied. Met hierdie skenking verlig ons nie net die voedselnood nie, maar fokus ons ook op volhoubaarheid deur die gemeenskap te bemagtig om self groente aan te plant. Ons sal aanhou om gemeenskappe te ondersteun deur hul nood te help verlig,” sê Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapsontwikkeling.

Mense wat skenkings of finansiële bydraes wil maak, kan AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid by trauma@afriforum.co.za kontak.

Soortgelyke plasings