|

COVID GAAN NIE TINTELTONG TOEKENNINGS KELDER NIE

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Plaaslike ondernemings moes die afgelope jaar meer as ooit wys wat in hulle steek om kop bo water te hou te midde van die COVID-pandemie. In hierdie tyd het talle ondernemings afgeskaal, nuwe baadjies aangetrek of  innoverende planne gemaak om te oorleef.

Só moes AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings óók vanjaar weens COVID-19 aangepas en anders aangebied word.

Vyf jaar gelede is daar besluit om vier van die paar honderd ondernemings wat op die AfriForum Sakenetwerk (toe AfriVriendelik) aanlyn-databasis geregistreer is en Afrikaans as saketaal bevorder het, met ’n pakkie in die pos in te beloon.

Vandag is dié aanlyn-databasis ’n netwerk van meer as 15 000 ondernemings en sedert 2017 word Afrikaanse ondernemings en entrepreneurs jaarliks tydens ’n spoggeleentheid met ’n Tinteltong Toekenning vereer vir die kreatiewe wyse waarop hulle met dié taal in besigheid omgaan.

“Weens die COVID-inperkings moes ons vanjaar kopkrap om die Tinteltong Toekennings – soos wat dit in die verlede aangebied is – te herevalueer. Gelukkig het 2020 ons geleer om altyd voorbereid te wees vir die onvoorbereide,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

Vanjaar se Tinteltong Toekennings werk dus soos volg:

  1. Daar is drie streke:
  • Noordstreek (Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en Limpopo)
  • Sentraalstreek (Vrystaat en Noord-Kaap)
  • Kusstreek (Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal)
  1. In elke streek word die nominasies in twee kategorieë verdeel, naamlik kreatief en korporatief. Die kreatiewe afdeling is vir kunstenaars, grafiese ontwerpers, fotograwe en dies meer, terwyl die korporatiewe afdeling vir konstruksie- maatskappye, prokureurs, ouditeurs en dies meer is.
  2. In elke streek is daar twee wenners in elke afdeling, dus vier wenners in elke streek en 12 wenners in totaal. Wenners word deur die publiek aangewys. Die twee ondernemings in elke kategorie en streek wat dus die meeste stemme kry, word as wenners aangewys.
  1. Ondernemings moet hul nominasie aanvaar om vir ’n Tinteltong Toekenning in aanmerking te kom. Dit beteken dat ons elke genomineerde onderneming sal kontak om hulle te vertel dat hulle genomineer is. Elkeen sal dan bereid moet wees om na die aangewese ateljee in hul streek te reis, waar die video met die wenners opgeneem word.
  2. Die toekennings word oorhandig tydens ’n privaat geleentheid. Slegs die ondernemingeienaar word genooi om die toekenning te ontvang en op video opgeneem te word. Daar word tydens die oorhandiging ook informele onderhoude met die wenners gevoer.
  3. Die toekennings word volgens streek oorhandig. As jy dus ’n toekenning wen en jy woon in die Wes-Kaap, sal jy jou trofee in die Wes-Kaap ontvang. Ons sal met die wenners in gesprek tree om die betrokke adres te bevestig.
  4. Nominasies word soos volg uitgedun:
  • In die kreatiewe afdeling kyk ons veral na hoe kreatief ondernemings met Afrikaans omgaan, hoe hulle sosiale media aanwend om hulself te bemark en hoe hulle hul handelsmerk toepas.
  • In die korporatiewe afdeling kyk ons veral na hoe professioneel hul dokumentasie opgestel word, wat kliënte van hulle sê en hoe lank hulle al in die bedryf is (ten minste twee jaar). Ons oorweeg ook die gebruik van ’n handelsmerk in dié kategorie.
  • Nominasies wat in die laaste twee jaar Tinteltong Toekennings gewen het, mag nie aan vanjaar se Tinteltong Toekennings deelneem nie. AfriForum Sakenetwerk wil ook aan ander ondernemings geleentheid bied om ons platform te gebruik om hulself te bemark, vandaar dié besluit.
  • 8. Belangrike datums: Stemming vind plaas van 20 tot 28 Januarie 2021. ’n Video van al 12 wenners sal op Youtube en ander sosialemediakanale uitgesaai word in die week van 22 tot 25 Februarie 2021. Hou gerus ons Facebook-blad dop vir die amptelike datum waarop die video vrygestel sal word.

“Ons hoop dat die wenners ander ondernemings en entrepreneurs ook sal aanspoor en besiel om hul sake in hul hartstaal te bedryf,” sê Van der Walt.

Stem nou vir jou gunsteling onderneming vir ‘n Tinteltong Toekenning by https://www.afriforumsakenetwerk.co.za/…/tinteltong…/.

Soortgelyke plasings