|

Dag twee van #HardloopvirHoop: Frankfort tot Reitz

Dag twee van die ultramaratonatleet Bennie Roux (41) se hardloopprojek het vanoggend om 05:00 by die Frankfort-gholfklub begin. Roux en ander atlete het vandag 68 km gehardloop en in Reitz geëindig. Dié atlete hardloop ten bate van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid om geweldslagoffers – veral slagoffers van plaasaanvalle en ‑moorde – te ondersteun.

Kinders en inwoners van Reitz het die drawwers 11:30 by Wolweplaas ontmoet en saam tot by Hoërskool Reitz gehardloop, waarna ’n muntlegging by die skool gedoen is.

“Ons beoog om altesaam 250 km af te lê as fondsinsameling vir AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid, om plaasaanvalslagoffers te help. Die doel van #HardloopvirHoop is verder om bewustheid rondom hierdie gewelddadige misdaad te skep. Ek glo dat bewusmaking een van die belangrikste manier is om die aandag op plaasaanvalle te vestig en die regering te dwing om meer te doen om boere te beskerm,” sê Roux.

 

“Die ondersteuning van die plaaslike inwoners, asook die skenkings wat AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid ontvang het, is bemoedigend. Ons hoop dat hierdie projek mense se bewustheid rondom plaasaanvalle sal verhoog en ons is baie dankbaar vir die bydraes en goeie ontvangs wat ons tot dusver gekry het,” sê Johan Kloppers, #HardloopvirHoop-woordvoerder van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

Die #HardloopVirHoop-roete lyk verder as volg:

  • 24 Oktober: Roux spring by die Hoërskool Reitz weg en hardloop na Bethlehem. Hy behoort om 17:00 by die Christensentrum in Bethlehem te wees waar daar ook ’n muntlegging gehou word.
  • 25 Oktober: Roux spring by Lavender Hill op die N5 weg en hardloop na Fouriesburg. ’n Poeierverfpretloop (colour run) vind om 12:00 by die Fouriesburg Intermediêre Skool plaas.
  • 26 Oktober: Hy spring in Fouriesburg weg en sluit die dag by die Roosfees by die Oranje Gasteplaas af.

Jy kan die projek só ondersteun:

  • ’n Skenking: Skenk ’n bedrag per km (50c, R1, R5, R100 en so meer: 50c per km is byvoorbeeld R125).
  • Skenkings kan aan die slagofferfonds gemaak word by:

Begunstigde: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 498 983 98
Tak: Centurion
Takkode: 261-550
Verwysing: Hardloop vir Hoop

Die Trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Die eenheid het al 238 mense ondersteun, waarvan 38 kinders is. Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, ondersteuning tydens hofsake, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning.

Kontak trauma@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings