|

Dana Snyman praat oor hoop by Velddrif-takstigting

AfriForum het gisteraand ’n nuwe tak en buurtwag in Velddrif in die Wes-Kaap gestig.

Die gewilde skrywer Dana Snyman was die gasspreker by die geleentheid by die Riviera-hotel. Hy het oor die tema Is daar hoop? gepraat.

Snyman het mense aangemoedig om by AfriForum aan te sluit omdat die burgerregte-organisasie al bewys het dat hulle met konstruktiewe aksies en veldtogte besig is.

“Te veel mense sit in koffiewinkels en dink hulle kan deur praat die land se probleme oplos. My ervaring is dat AfriForum nie net praat nie, maar self dinge in dorpe en stede doen en só konstruktief help om die land te verbeter en te bou.”

Snyman het voorts gesê dit is belangrik dat mense hulle nie moet afsluit van die land se probleme en regering nie. “Ons moet kalm en bedaard elkeen doen wat ons kan. Deur ons af te sluit of in woede oorlogspraatjies te maak, gaan niks positief tot gevolg hê nie.

Snyman het gesê hy is self ’n trotse Afrikaner, maar hy het ’n probleem met mense wat kritiek lewer op iemand wat sê dat hy of sy is ’n Afrikaner net omdat dié persoon nie noodwendig by die ander se idee van Afrikanerskap inpas nie. “Dit gaan niemand van ons help om in woede en bitterheid te leef of ons van ander mense te probeer afsny nie. Ons kan net vooruitgaan as ons saamwerk en elkeen sy deel doen.”

Hy het ook na Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verwys en gesê Buys stel ’n voorbeeld van hoe mens met eerlikheid kan optree en op ’n beskaafde manier jou standpunt kan stel.

Deon de Jager, distrikskoördineerder vir die Wes-Kaap, het gesê die takstigting was ’n reusesukses met meer as 100 gaste wat die geleentheid bygewoon het. “Die opkoms was groter as wat ons verwag het. Dana Snyman het ’n kragtige boodskap gehad wat ek glo die meeste mense tot nuwe insigte gebring het.”

 

Soortgelyke plasings