|

Dapper Media-tuiskonserte help Afrikaanse kunstenaars tydens staat van inperking

 

Die Covid-19-krisis en die gevolglike staat van inperking het die land en ekonomie op sy knieë gedwing.

Miljoene mense kry sedert die inperking finansieel baie swaar weens onder meer werkverliese en ondernemings wat reeds hul deure moet sluit.

Kunstenaars is ook hard getref omdat kunstefeeste, konserte en optredes gekanselleer moes word. Baie het begin om tuiskonserte aan te bied om die pot aan die kook te hou.

Dapper Media, ’n inisiatief van AfriForum, het besluit om Afrikaanse kunstenaars en sangers as deel van die maatskappy se sosiale verantwoordelikheid in nood by te staan.

Dapper Media het ’n platform gestig waarop kunstenaars hul tuiskonserte kan oplaai. Die publiek kan kaartjies vir die konserte koop en op hul eie tyd daarna kyk. Die fondse word direk aan die kunstenaars en platemaatskappy oorbetaal.

Die konserte word aanlyn gestroom en is ook op ’n slimtoestel beskikbaar.

Kunstenaars wie se konserte nou beskikbaar is, is Adam Tas, Riaan van Rensburg en Willem van der Ryst.

Volgens Adam Tas het sy kitare “ontroosbaar begin huil” en het hy besluit om ’n tuiskonsert op te neem. “Kom kuier saam met my, geniet die konsert, steek ’n vuurtjie aan en drink ’n glasie wyn. En baie dankie vir almal se ondersteuning. Die geld wat die konsert inbring, sal ek ook met my orkeslede deel wat in dié tyd baie swaarkry.”

Riaan van Rensburg is een van Suid-Afrika se topmusikante en -perkussiespelers. Hy is veral bekend vir sy deelname aan die immergewilde TV-reeks Noot vir Noot. As trom- of perkussiespeler het Riaan saam met verskillende kunstenaars, orkeste, popgroepe en platejoggies in Suid-Afrika en internasionaal in 17 verskillende lande opgetree.

Willem van der Ryst is op sy beurt ’n unieke stem uit die Noord-Kaap. Hy het grootgeword tussen vaalbosse op Ghaap se Berg, ’n uur se ry vanaf Kimberley. Willem se drome was egter groter as die karoovlaktes en hy het homself in Gauteng gevestig en as professionele klankingenieur gekwalifiseer.

Meer konserte met onder andere Appel, Bernice West, Jo Black, Pieter Koen, Ichnus en Danny Smoke sal binnekort beskikbaar wees. Hou gerus Dapper Media se sosiale media vir meer inligting dop.

Om die konserte te kyk, besoek Dapper Media by www.dappermedia.co.za en klik op die Tuiskonserte-skakel aan die linkerkant. Kaartjies word aangekoop deur PayFast. Wanneer jou betaling gefinaliseer is, sal die blad terugkeer na die kunstenaar se blad waarop die konsert beskikbaar is. Alle konserte sal vir 24 uur beskikbaar wees nadat jy dit aangekoop het.

Vir enige navrae stuur ‘n e-pos aan info@dappermedia.co.za

Soortgelyke plasings