|

Datum om kommentaar in te dien aangeskuif ná AfriForum beswaar aanteken

Die datum om kommentaar op die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit in Klerksdorp se 2018/2019-jaarverslag te lewer, is na 28 Februarie 2020 aangeskuif nadat AfriForum se Klerksdorp-tak en die Matlosana-sakekamer beswaar aangeteken het oor die kort tydperk wat inwoners gegun is om kommentaar op die verslag in te dien.

Volgens Frans Roos, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, is daar volgens wet nie genoeg tyd gegun om die verslag deur te werk en dan kommentaar te lewer nie. “Die jaarverslag beslaan 431 bladsye en is op 31 Januarie ter tafel gelê. Luidens ’n kennisgewing in die Klerksdorp Rekord van 7 Februarie was die spertyd vir kommentaar 14 Februarie om 16:00,” sê Roos.

Johan Oosthuizen van die sakekamer het ook kapsie gemaak teen die kort tydperk en sê die verslag was tot en met 10 Februarie nog nie op die munisipaliteit se webtuiste gepubliseer nie. Hy het hom ook op die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000) met betrekking tot openbare deelname beroep.

Volgens Roos is openbare deelname die grondslag vir ’n sinvolle deelnemende regering. Raadslid Joseph Bogatsu, voorsitter van die munisipaliteit se Munisipale Openbare Rekeninge-komitee, het intussen verskoning aangeteken vir die fout wat begaan is en die datum vir kommentaar is aangeskuif.

“Hierdie geval bewys weer eens dat die publiek wakker moet wees om sulke foute raak te sien en iets daadwerkliks daaraan moet doen. Die ANC moet besef dat daar waghonde is wat hierdie foute nie sal laat verbygaan nie. Daarom moedig ek mense aan om aktiewe lede van AfriForum, wat ’n burgerregtewaghond is, te word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Soortgelyke plasings