|

De Goede Hoop bring jool terug Tuks toe

Studente van AfriForum Jeug Tukkies, De Goede Hoop-koshuis en die ambagskollege Sol-Tech het vanjaar hul eie jooloptog gehad om geld vir liefdadigheid in te samel nadat die Universiteit van Pretoria (UP) vroeër aangekondig het dat dié jare-oue tradisie vanjaar in ʼn ander formaat aangebied sou word.

Volgens Rikus Delport, woordvoerder van die UP, word die tradisionele vlotoptog vervang met ’n ‘skatkis van hoop’-uitstalling, waartydens koshuise ʼn skatkis vul met voorgeskrewe items wat deur gemeenskapsorganisasie benodig word, byvoorbeeld komberse en blikkieskos. Hy meen die hoofrede vir dié nuwe formaat is om koste te verminder en vermorsing te beperk omdat sierwaens nutteloos is ná die optog.

Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se Tukkies-koördineerder, sê dat jool egter bepaalde voordele vir studente en die gemeenskap inhou en dat dit onaanvaarbaar is dat dit sommer so geskrap word.

“Jool is ʼn gesonde studentetradisie wat baie het om te bied en tot die gemeenskap by te dra. Dit gee aan studente die geleentheid om leierskapsvaardighede te ontwikkel, mekaar te leer ken en pret te hê, terwyl hulle werk aan ’n groter doel, naamlik om terug te gee aan die gemeenskap,” meen hy.

AfriForum Jeug, De Goede Hoop en Sol-Tech het tydens dié aksie elkeen ’n afsonderlike vlot gebou om aan die jooloptog deel te neem. Dit het vanaf die De Goede Hoop-koshuis in Hatfield vertrek en by die kuierplek Arcade Empire geëindig.

Sowat 100 studente het aan die aksie deelgeneem en Sol-Tech se sierwa het vanjaar koning gekraai. Dié studente het ook altesame R13 000 ingesamel wat aan die CMR-kleuterskool geskenk is.

Volgens Grobbelaar beoog AfriForum Jeug om in die toekoms meer instansies te betrek sodat jool kan groei en alle studente die geleentheid sal hê om deel hiervan te wees.

Renier Goosen, voorsitter van AfriForum Jeug se Tukkies-tak, sê dat jool een van die lekkerste, maar ook mees veeleisende aksies was wat hy al aangepak het.

“Dit is baie bevredigend om te weet dat ek deel was van iets wat ʼn positiewe bydra in die gemeenskap gemaak het. Dit was beslis sover een van die hoogtepunte van my studenteloopbaan.”

 

Soortgelyke plasings