|

De Goede Hoop-koshuis: ʼn tuiste vir enige Afrikaanse Tukkie

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die De Goede Hoop-koshuis wat volgende jaar sy deure by die Universiteit van Pretoria (UP) oopmaak wil ʼn inklusiewe tuiste wees vir enige Afrikaanssprekende Tukkies-student.

Dié koshuis sal deur AfriForum gefinansier word, op ’n Christelike-grondslag geskoei wees en  onafhanklik van UP se koshuise funksioneer. AfriForum beskryf De Goede Hoop as ʼn kultuurinstelling wat verblyf bied vir alle studente wat gemaklik binne die Afrikaanse gemeenskap voel.

Hoewel De Goede Hoop ʼn privaat koshuis is, word daar beoog dat die koshuis steeds aan tradisionele kampusaktiwiteite soos Jool, sêr en rugby sal kan deelneem.

“Daar is ’n groot behoefte aan ’n koshuis wat studente op meriete keur,” sê Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Hy meen daar is ʼn tekort aan studenteverblyf en verduidelik dat universiteite gekonfronteer word met studente wat slegs ʼn behoefte het vir behuising, maar ook met studente wat ʼn behoefte het vir ʼn holistiese studente-en koshuiservaring. Jansen van Rensburg sê voorts dat gegewe politieke druk ontstaan daar spanning in die proses om alle studente se behoeftes rakende behuising te bevredig.

“Politieke inmenging het ’n baie negatiewe impak en inperking op studentelewe en -aksies,” sê Jansen van Rensburg.

“De Goede Hoop wil dus die gaping wat daar tans ontstaan vir ʼn koshuis wat ʼn gesonde studentelewe en -aktiwiteite bevorder, vul.”

AfriForum beoog om hul privaat koshuiskonsep vir Afrikaanssprekendes na ander kampusse uit te brei mits dit by UP slaag.

Die koshuis is op die hoek van Jorrisen- en Verdoornstraat in Walkerspruit (1,8km van die UP se Hatfield kampus) geleë en sal sowat 300 mans en dames kan huisves, maar is egter nie ʼn gemengde koshuis nie. Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug Tuks se kampuskoördineer verduidelik dat mans en dames elkeen hul eie huiskomitee (HK) en begroting sal hê. De Goede Hoop se stigters het reeds studente op hul Facebook-blad genooi om hul CV’s te stuur indien hulle volgende jaar op die HK wil dien.

Marthinus Jacobs, AfriForum Jeug Tuks se takvoorsitter is van die mening die koshuis ʼn briljante idee is wat nie op ʼn beter tyd kon kom nie.

“In ʼn tyd waar universiteitskoshuise hul tradisies, kultuur en karakter verloor, skep De Goede Hoop ʼn alternatief vir studente. Dit is ʼn plek waar Afrikaanse Christenstudente hul taal en kultuur vry en veilig kan uitleef en met medestudente kan deel. Elke student het die reg tot ʼn plek waar hy of sy voel: ‘ek behoort’.”

Jacobs sê koshuiskeuring, asook keuring vir ʼn studierigting of  ʼn sportspan, moet altyd op meriete geskied.

Soortgelyke plasings