|

De Goede Hoop stap vêr in stryd teen kanker

Vyf spanne van die privaat Afrikaanse koshuis De Goede Hoop het vanjaar deelgeneem aan die Kankervereniging van SA (Kansa) se Relay for Life-afloswedstryd in Pretoria.

Die geleentheid het ten doel om bewustheid van kanker te verhoog en geld vir Kansa in te samel.

Sowat 60 koshuisstudente het byna 830 km tydens die geleentheid afgelê. Volgens Jané Lubbe, ’n huiskomitee-lid van De Goede Hoop en Kansa-komiteelid, vorm die aksie deel van die koshuis se doen-goed-voel-goed- inisiatief waartydens De Goede Hoop-studente goeie dade en aksies in hul gemeenskap verrig.

Die Relay for Life- afloswedstryd begin altyd met ’n spesiale geleentheid vir die gemeenskap se kankeroorwinnaars. Daarna vind die die openingseremonie plaas wat gevolg word deur die oorwinnaars se ereronde. Die aand word dan later afgesluit met die baie spesiale Luminaria-seremonie, waartydens hulde gebring word aan geliefdes wat hul stryd teen kanker verloor het.

“Ons as De Goede Hoop is nie net ’n koshuis nie, ons is deel van ’n groter gemeenskap en ons wil ’n daadwerklike verskil daarin maak,” meen Lubbe.

Vir meer inligting oor verblyf by De Goede Hoop, stuur ’n e-pos na aansoek@degoedehoop.co.za of besoek http://www.degoedehoop.co.za/kontak-2/verblyf-navraag/.

Soortgelyke plasings