|

De Goede Hopers sluit die jaar op ’n hoë noot af

Deur Chanté Kelder

2021 was net soos die vorige jaar ’n uitdagende jaar, dit is steeds moeilik om op kampus klas te draf en hoewel gunstelingkuierplekke oop is, word studentevryheid met streng aandklokreëls gedemp.

Niks kon egter die De Goede Hopers keer om vanjaar op ’n hoë noot af te sluit nie. Tussen 21 Oktober en 23 Oktober is die nuwe huiskomitee (HK) aangekondig en ingehuldig en kon die studente ook die jaar wat verby is vier met ’n glansryke dinee.

Die HK is tydens ’n geheime seremonie ingehuldig wat slegs vir ’n uitgesoekte groepie beskore was. Hoewel die HK bekendgemaak is, word die portefeuljes eers later aangekondig. Die drie portefeuljes wat wel gevul is, is soos volg: Ruben Buitendag (primarius), Bunika Groenewald (primaria) en WC Kriel (AfriForum Jeug). Die ander lede van die 2021/2022 HK is Monique van der Loo, Loria Fourie, Deandra Albrecht, Nadine Jacobs en Stephen Nel.

Oud-huiskomitee en nuwe huiskomitee saam met die huisouers

Die geleentheid waarna elke student natuurlik die hele jaar  uitsien, is die dinee. Dit is dié geleentheid om saam met vriende tyd deur te bring en ou bekendes weer te sien. Die dinee is vanjaar by Die Kraal op die Sol-Tech-kampus in Monumentpark gehou.

Carla Janssen en Marno Strauss – primaria en primarius vir 2020/2021 – het die formaliteite begin deur elkeen ’n afskeidsboodskap aan die koshuisinwoners en -ouers te gee. Albei maak vanjaar klaar met hul studies en hul avontuur by De Goede Hoop is dan ook iets van die verlede.

Strauss was een van die eerste inwoners van De Goede Hoop en hy het herinneringe gedeel van die ou perseel in Sunnyside. “Julle het gewys dat ’n klomp Afrikaners in die middel van Sunnyside ’n fees kan hê. Ná ons na die nuwe perseel getrek het, was dit steeds in Hatfield ’n fees saam met julle.” Strauss het sy toespraak afgesluit deur die huisouers te bedank vir die rol wat hulle ook in sy lewe gespeel het.

Julle het gewys dat ’n klomp Afrikaners in die middel van Sunnyside ’n fees kan hê.

Marno Strauss – Primarius 2020/2021

Carla Janssen het in 2021 die pos van primaria aanvaar ná haar voorganger bedank het. “Ek het baie van myself geleer in hierdie jaar. Vanaand is my hart seer want ek weet hierdie tyd in my lewe kom nou tot ’n einde. De Goede Hoop is nie net ’n koshuis nie, dit is werklik ’n huis waar jy jouself kan wees en weet niemand oordeel jou nie. Ek gaan julle mis.”

Studente word ook by die dinee beloon vir hul harde werk deur die loop van die jaar met ’n wisseltrofee of spesiale toekenning.

Die volgende studente het toekennings ontvang:

Lakei (eerstejaarman) van die jaar: Michail Jooste

Nooientjie (eerstejaardame) van die jaar: Annika Oosthuizen

Senior man van die jaar: Ruben Buitendag

Senior dame van die jaar: Carla Janssen

Stephen Hawking-trofee (vir die student wat die meeste kuier en steeds sy/haar studies goed deurkom): Kobus Botha

Kop in een mus (twee vriende wat onafskeidbaar is): Guillaume Kelder en WC Kriel

Huisweekwenners: Huis Andries Pretorius en Huis Tibbie Steyn

Akademiese man van die jaar: Marno Strauss

Akademiese dame van die jaar: Carla Janssen

Primstrofee: Loria Fourie

Huisouers se eerstejaar van die jaar: Anne-C’monn Joubert

Huisouers se HK-lid van die jaar: Willem Fourie

William Waugh (uitvoerende hoof van De Goede Hoop) se spesiale toekenning: Carla Janssen Huisouers se spesiale toekenning: Marno Strauss

Soortgelyke plasings