|

De Wildt-plaasaanvallers ontsnap

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Twee van die drie verdagtes wat na bewering die egpaar Hannes (77) en Annetjie (74) van der Merwe verlede jaar op hul plaas in die De Wildt-omgewing aangeval het, het Vrydag glo uit ’n bewegende polisievangwa ontsnap.

Vier verdagtes het ontsnap uit die vangwa wat verhoorafwagtendes vanaf die Mogwase sentraal-gevangenis na die Brits landdroshof in die Noordwes vervoer het.

Ontse Lebese en Gibson Msimango was albei verhoorafwagtend op klagtes van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en aanranding met die opset om ernstig te beseer, nadat hulle die egpaar in Januarie 2015 op hul familieplaas aangeval het.

Volgens hul seun, Callie van der Merwe, is sy ouers erg met die vuis, ’n byl,  ʼn pistool en afgesaagde haelgeweer asook ʼn stuk pyp geslaan. ʼn Marteling wat glo sowat twee ure geduur het. Annetjie se heup is ook erg tydens die aanval beseer en Hannes is met ʼn strykyster gebrand.

“Toe my pa na my toe aangestap gekom het op die toneel kon ek sien hoe die bloederige velle van sy bene afhang soos hulle hom gebrand het. My ma se gesig was byna swart geslaan en sy het gebloei. Hulle het ook ʼn groot stuk vel van haar hand afgeruk. Vir watter rede weet ek nie. ʼn Mens kon die merke en snye om hul gewrigte sien soos hulle vasgebind was,” het Callie vertel.

Lebese en Msimango het saam met twee ander verhoorafwagtendes, wat onderskeidelik op aanklagte van moord en verkragting in die hof sou verskyn, ontsnap.

Van der Merwe het aan Forum Nuus gesê  hy is uiters teleurgesteld oor die nalatigheid van die polisie. “Dit het baie moeite geverg om die verdagtes in die tronk te kry en na Vrydag se voorval voel dit asof alles vir niks was nie.”

Hy sê voorts dat sy familie opnuut gespanne is en dat die sielkundige en mediese nagevolge ‘n groot invloed op sy ouers se lewe gehad het. “Ons moes die verdagtes uitken, daarom weet hulle ook hoe ons lyk. Dit is menslik om te vrees dat hulle wraak sal wil neem.”

Die egpaar se dogter was Vrydag reeds in die hof vir die verrigtinge toe hulle verneem het dat twee van die verdagtes ontsnap het. “Sedert die verdagtes ontsnap het, het geen polisielid of departement met ons kontak gemaak nie. Ons is self in die duister oor die saak,” het Van der Merwe gesê.

Lt.-genl. Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris van die SAPD in Noordwes, het gesê ’n motoris op die N4 het die verdagtes sien ontsnap en die polisie dadelik in kennis gestel. Hulle was egter reeds weg nadat die polisievoertuig stilgehou het.

Maj. Pelonomi Makau, polisiewoordvoerder in Noordwes, het by navraag gesê die polisie ondersoek die voorval en enige polisielid wat nalatig of onoplettend was, sal aanspreeklik gehou word. Sy het gesê die gemeenskap moet op hul hoede wees terwyl die soektog na die verdagtes voortduur.

Van der Merwe sê hy vermoed dat die ontsnapping voorafbeplan is en dat die polisiebeamptes dalk omgekoop is.

Soortgelyke plasings