Departement moet antwoorde verskaf oor Centurion-grondeis


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die proses vir ’n formele aansoek van stapel gestuur om die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming te verplig om verdere en volledige besonderhede oor die grondeis in Centurion en omliggende gebiede bekend te maak nadat dié departement versuim het om op verskeie vorige versoeke van AfriForum in hierdie verband te reageer.

Dít volg ná ’n grondeis in Junie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is wat ongeveer 4 000 ha se onroerende eiendom raak en nagenoeg 2 000 huisgesinne betrek.
Indien die departement steeds versuim en nie die versoekte inligting binne 90 dae beskikbaar stel nie, sal die hofaansoek beteken en geliasseer word en ’n datum op die hofrol verkry word.
AfriForum en die belangegroep Rethro benodig die uitstaande inligting om volledige voorleggings aan die owerhede te stuur ten einde die grondeis na behore teen te staan.

“Dit is ’n frustrasie vir die geaffekteerde gemeenskap dat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming met die verskaffing van inligting, wat AfriForum vroeër vanjaar versoek het, sloer. Dit is tog in almal se belang dat hierdie aangeleentheid so spoedig moontlik afgehandel word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
“Indien AfriForum en Rethro oor die volledige inligting beskik rakende die eisers se weergawe, kan daar voortgegaan word om sodanige weergawe te weerlê deur die aanbied van getuienis wat deur deskundige verslae onderskraag word,” sluit Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, af.

Soortgelyke plasings