|

DIE DINGE VAN ’N KIND NÓÚ BY DIE AFRIFORUM TEATER TE SIEN

Deur Carina Bester

Marita van der Vyver se bekende boek Die dinge van ’n kind, wat in 1994 verskyn het, is deur meesters in die bedryf in ’n teaterproduksie omskep. Dié produksie het vir die eerste keer in 2019 by die Aardklop-kunstefees op die planke gekom en was daarna ook by die Toyota US Woordfees. Dit sou in 2020 ook by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) te sien gewees het, maar dié fees is soos talle ander weens die COVID-19-pandemie gekanselleer.

Die dinge van ’n kind is egter weer terug op die verhoog en is van 11 tot 16 Mei in die AfriForum Teater te sien.

Die hoofkarakter, Mart Vermaak, word in hierdie eenvrouvertoning deur Cintaine Schutte, wat in verskeie teaterproduksies, flieks en TV-reekse soos Fynskrif en Die byl te sien is, vertolk.

Jy sien as’t ware deur Mart se oë wat sy ervaar en waardeur die karakters gaan. Twee storielyne word parallel met mekaar uitgebeeld: Mart as ’n jong tiener in die 1970’s en dan ’n ouer Mart in haar 30’s in die 1990’s as ’n expat in Londen.

Hoewel Die dinge van ’n kind in die 1970’s afspeel is dit steeds relevant in vandag se tye. Dit vang temas van tienerskap, hormone en grootwordjare, asook vriendskap vas. “Ek dink die grootste vraag wat almal vir hulleself vra en wat ook in die boek en teaterproduksie voorkom is ‘wie is ek en waar hoort ek?’,” sê Schutte.

Volgens Schutte is Die dinge van ’n kind werklik ’n ongelooflike boek en sy het nie twee keer gedink toe Alexa Strachan en Margit Meyer-Rödenbeckhaar haar vir die rol genader het nie. “Die rol laat my toe om myself te rek in maniere wat ek nie geweet het moontlik is nie. Veral omdat ek besig is om met soveel karaters, emosionele landskappe en storielyne te werk. Dit leer my om teenwoordig te bly en om soveel as moontlik eerlik te bly in die spasie van die landskap waarin ek vir Mart vertolk. Ek dink dit is ’n belangrike stuk om te vertel. Daar is baie ligte oomblikke en humor in die stuk en jy word lief vir Mart. Ek is self baie lief vir Mart, sy is ’n ongelooflike karakter.”

Hierdie eenvrouvertoning is vir Schutte ’n hoogtepunt in haar loopbaan veral ook omdat sy mal is oor Van der Vyver se werke. “Maritha dwing emosie af in haar werke en sy vang relevante universele temas vas. Daarom is hierdie toneelstuk werklik vir enigiemand bedoel. Dit is vir my merkwaardig om te weet dat elke persoon iets hieruit gaan kry en iets van hulself in die stuk raaksien. Ek het nie in die 1970’s grootgeword nie; ek was nog ’n kind in die 1990’s, maar nadat ek die boek gelees het, het ek besef dit maak nie saak of jy ’n tiener in die 1970’s was nie en of jy eendag in 2085 ’n tiener is nie, jy gaan deur dieselfde goed. Dit is steeds relevant.”

Dit is vir Schutte spesiaal dat dié produksie nou in Pretoria, waar sy grootgeword het, te sien is. Volgens haar sal teater ook nooit uitsterf nie. “Ons as kunstenaars sal aanhou beweeg en geraas maak. Ons het gebloei in hierdie tydperk en dit was werklik moeilik. Ek is net dankbaar dat ek weer op die verhoog kan wees en dat AfriForum vir kunstenaars die geleentheid gee om hul werk te kan ten toon stel. ’n Mens kan voel hier is ’n tipe energie van kreatiwiteit en rou emosie. Mag die teater werklik net hoër en hoër vlieg.”

Die dinge van ’n kind is tot Sondag 16 Mei by die AfriForum Teater. Kaartjies vir die produksie is by www.afriforumteater.co.za beskikbaar en kos R170. Francois Toerien het die teks verwerk, die klankbaan is deur Schalk Joubert en Nicole Holm is die regisseur.

Soortgelyke plasings