|

Die Eerste Naweek: De Goede Hoop se eerstejaars begin 2022 op ’n hoë noot

De Goede Hoop-koshuis het in Februarie sy nuwe eerstejaars verwelkom, studente begin binnekort weer met klasse op kampus en so ver lyk dit asof hierdie jaar meer normaal gaan wees as sy twee voorlopers. Die nooientjies en lakeie het in hul eerste week by die koshuis min geslaap en hard geoefen aan die eerstejaarskonsert wat tradisioneel op die Saterdag van hul eerste week by die koshuis plaasvind.

Die eerstejaarskonsert is elke jaar iets om na uit te sien en hierdie een was geen uitsondering nie. Die konsert met die titel Die Eerste Naweek is by die AfriForum Teater gehou en die opwinding was tasbaar. Opgewonde fluisterstemme kon agter die verhoog gehoor word en toe die eerste note van The Greatest Show oor die luidsprekers weerklink was dit duidelik dat die gehoor net so opgewonde was om te sien waaraan hierdie groep so hard geoefen het.

Die Eerste Naweek handel oor agt eerstejaars se ervaring van hul eerste naweek as studente in ’n koshuis in Pretoria. Die gehoor word voorgestel aan die tweeling van die plaas af, Johan en Susan, die doodgewone Jane (oftewel, die plain Jane), die stadsmeisie, Katy, negatiewe Nellie, fris Chris en Bennie Boekwurm. Daar was ook twee kwaai HK-lede (huiskomiteelede) en ’n jaloerse kêrel om dinge interessant te hou. Die tonele het op ’n humoristiese wyse die nuwe eerstejaars se uitdagings, verwarring en vreugde uitgebeeld. Op die ou end was die boodskap duidelik, hoewel hulle nog net ’n week lank in die koshuis is, voel hulle reeds so tuis soos by hulle eie huis.

Die gehoor het geskaterlag soos die eerstejaars heupe geswaai het en asem opgehou terwyl studente in die lug gegooi is voor hulle weer veilig in hul mede-studente se arms te lande gekom het. Van die treffers wat die gehoor se voete laat jeuk het was Wys jou vleis, Gimme Gimme Gimme, Huil soos ’n man en Sandra Prinsloo.

Die HK-lede het ook gewys dat hulle nie bang is vir ’n teater vol mense nie en ná die amptelike konsert verby is, het dié groep van agt vir die eerstejaars gewys waaraan die Praal Admiraals (HK-mans) en Barones Prinsesse (HK-dames) gewerk het. Dit is ook tradisie vir die HK-lede om ’n dansie op die eerstejaarskonsert te doen en dit is behoorlik ’n bederf vir die eerstejaars om te sien dat hulle huiskomitee nie net daar is om die dissipline op die terrein te handhaaf nie, maar dat hulle ook altyd kans sien vir ’n bietjie pret.

Aan die einde van die aand voor die koshuislied gesing word, kry die eerstejaardames die geleentheid om hul Meisje Wysjie op te voer. Die Meisje Wysjie word elke jaar deur die HK-dames vir die eerstejaardames geskryf en dit is ’n samevoeging van liedjies, sê-goed en verwysings na die vorige jaar se gebeure.

Die eerstejaarmans is ná die Meisje Wysjie aan die beurt en dit is hulle voorreg om Molly Malone te sing. Die sing van Molly Malone is ’n tradisie wat oorgedra is van die tyd toe De Goede Hoop se perseel nog die tuiste van Huis Voortrekker was –  die De Goede Hopers het besluit om hierdie tradisie voort te sit. Daarna sluit die HK-mans by hulle aan om My Borsbeen Jeuk op te voer (’n kort gediggie met interessante klanke en bewegings wat daarmee gepaardgaan).

Terwyl die gehoor uit die teater stap staan die nuwe eerstejaars in ’n kring, hand om die lyf met hul HK-lede en die koshuisvader en -moeder en die teater dreun soos studentestemme hul kreet met trots laat weergalm: HKDGH! HKDGH! Hier kom De Goede Hoop!

Soortgelyke plasings