|

DIE INVLOED VAN BOELIEGEDRAG OP ONS LAND SE KINDERS IN 2019: FISIESE, EMOSIONELE, VERBALE EN KUBERAFKNOUERY. WAT KAN GEDOEN WORD?

Deur: Leandie Bräsler

.Afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die boelie.

Verbale afknouery is wanneer die boelie kinders beledig, op ’n neerhalende wyse die spot met hulle dryf en dreigemente uiter.

Emosionele afknouery is wanneer negatiewe optrede herhaal word – maar nie noodwendig op ’n fisiese of verbale manier nie – en gebruik word om ander aspris emosioneel seer te maak deur bv. skinderstories te versprei, sosiale uitsluiting, deur iemand se besittings te steel, te vernietig of te beskadig, intimidasie deur gebare of dreigemente, en kuberafknouery.

Fisiese afknouery is wanneer die boelie sy liggaam gebruik om die slagoffer af te knou, byvoorbeeld om iemand te skop, te slaan, te knyp of te boks. Hierdie vorm van afknouery is makliker om te identifiseer as verbale en emosionele afknouery.

Kuberafknouery word gedefinieer as optrede waardeur iemand (die slagoffer) geteister, verneder, gedreig of in ’n verleentheid gestel word deur van elektroniese metodes gebruik te maak, soos blitsboodskappe, e-posse of sosiale media. Selfone, tablette en die internet word deur kinders gebruik om vir mekaar lelike boodskappe te stuur, om gemene kommentaar op iemand se foto’s te lewer, om haatgroepe te stig, en om foto’s van die persoon sonder hulle toestemming te deel wat hulle ontsteld en skaam laat voel.

Anonieme kuberafknouery is wanneer ’n persoon ander afknou deur van tegnologie of elektroniese toestelle gebruik te maak om sy/haar identiteit te verbloem. Dit kan oor selfone of oor die internet of aanlyn gebeur.

Op 7 Maart 2019 het daar ’n spotprent in The Citizen verskyn van skoolkinders wat in die straat verby ’n lamppaal loop met ’n advertensiebord van dié koerant wat lui: “SCHOOLS TURNED INTO WAR ZONES”. Die leerders se gesigsuitdrukkings kom wreedaardig voor – tande wat op mekaar kners en oë wat op skrefies trek met ’n frons wat prominent op die voorkop sit. Elke leerder dra ’n wapen. Die een dra ’n mes, die ander ’n pistool en die ander een ’n skêr.

Die kabinet het onlangs kommer uitgespreek oor die toename in afknouery/boeliegedrag, geweld en rooftogte wat in sekere skole plaasvind. Sedert die begin van die jaar was daar verskeie voorvalle van afknouery/boeliegedrag en geweld wat tussen leerders of tussen leerders en onderwysers plaas gevind het. Madan Motlhamme (13) is oorlede nadat hy by die Mateane Primary School in Noordwes deur ’n klasmaat met ’n mes in die maag gesteek is. Vyf leerders tussen die ouderdomme van 15 en 16 jaar van Florapark in Polokwane het vir Thoriso Themane aangeval en vermoor. ’n Sestienjarige leerder van die Mpheko Primary School in Peddie is ná ’n argument met ’n medeleerder in die rug gesteek terwyl hulle op die speelterrein was. Twee leerders van Lenasia Secondary School is geskors nadat ’n video op sosiale media versprei het oor hoe ’n leerder ’n onderwyser aanval. Hierdie is net ’n paar van die gebeure wat sover hierdie jaar plaasgevind het. Lees hier meer: https://www.sanews.gov.za/south-africa/prevent-schools-becoming-death-traps?fbclid=IwAR0Bx3LgBOI_Iwua033Payz8NgGatC1YXg_ItfHXDuXeTjqx_vWeJ2dp6cw.

Iets wat onlangs opslae gemaak het, is die sogenaamde Momo-uitdaging. Dit is ’n soort boelietaktiek wat aanlyn plaasvind en kan na bewering veroorsaak dat kinders hulleself seermaak of hul eie lewe neem. Momo word volgens inligting wat op sosiale media versprei is, geïdentifiseer as ’n gedrogkarakter met ’n groot aangeplakte glimlag en groot oë wat op die selfone en rekenaars van kinders verskyn. Hierdie uitdagings word op YouTube, WhatsApp en Facebook gedeel en die opdragte moet uitgevoer word sodat jy in verbinding kan tree met Momo. Daar is nog geen bevestiging van die Momo-uitdaging in Suid-Afrika of iets wat daarmee verband hou nie, maar ouers moet steeds paraat wees vir hierdie soort verskynsels. Hierdie artikel bevat inligting oor die Momo-uitdaging:

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ouers-rasend-oor-gevare-van-momo-uitdaging/.

Parent24 het onlangs berig dat ouers paraat moet wees oor YouTube-video’s wat moontlik onderbreek mag word deur selfmoordwenke. Volgens die berig is dit vir ouers belangrik wat hulle kinders mag kyk en wat hulle nie mag kyk nie. Daar is bv. ouderdomsbeperkings vir programme op TV, videospeletjies en films, maar op die internet is dit baie meer ingewikkeld om te beheer. Fox 4 Now meen dat alhoewel video’s soms op ’n toep na animasie lyk, sommige van hierdie video’s dele bevat wat ingelas word en op kinders gemik is. Die YouTube-poetsbakker Filthy Frank gee op hierdie video selfmoordwenke aan kinders (nie vir sensitiewe kykers nie): https://www.youtube.com/watch?v=BljeROiohuc. Klik hier vir meer inligting hieroor:  https://m.parent24.com/Family/Parenting/moms-and-dads-the-youtube-videos-your-kids-are-watching-may-be-interrupted-by-suicide-tips-20190226?fbclid=IwAR2Y5Xnm5peKYRFfWiQXKciUX2g97uUv88wQD4-bDsgK-qSUAukbnGTeJcU.

Boelies kan strafregtelik vervolg word – of dit nou vir fisiese, verbale, emosionele, of kuberafknouery is. Volgens Megan Harrington-Johnson, die besturende vennoot en stigter van HJW Attorneys, is boeliery/afknouery nie op sigself ’n misdaad nie, maar die gedrag wat daarmee gepaard gaan kan as ’n misdaad gekategoriseer word. Sy noem ook dat ’n minderjarige wat skuldig bevind word aan boeliegedrag nie noodwendig tronkstraf sal kry nie, maar vir terapie of berading gestuur kan word om te leer hoe om hul woede te bestuur en te hanteer. Hierdie video en artikel verskaf meer inligting hieroor: https://www.enca.com/news/bullying-could-be-criminally-prosecuted?utm_term=Autofeed&fbclid=IwAR2ay9WNDZLnjm9OB4dzucqdRTCmH2Wy3f8xmGsh1KCL9GKK2QjPRHUkW-s.

Kinders kan van so jonk as tien jaar van boeliegedrag aangekla word. Ouers en hul kinders kan dus self ’n hofbevel ingevolge die Wet op die Beskerming teen Teistering teen boelies kry.  https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/selfs-10-jarige-boelies-kan-vervolg-word-20190221#loggedin.

Boeliery/afknouery is waarlik ’n ernstige probleem in ons samelewing. ’n 13-jarige meisie van Pretoria-Noord het onlangs haar eie lewe geneem nadat sy glo op WhatsApp geboelie is. Lees meer: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/13-jarige-sterf-byna-nie-kans-om-te-reageer-op-boeliegedrag/.

Wat kan ek doen as ek die slagoffer van anonieme kuberafknouery is?

  1. Laat jou stem hoor – Maak seker dat jy vir iemand vertel wat aangaan. Dit kan ’n vriend wees of ’n volwasse persoon wat jy vertrou. Dit is uiters belangrik dat jy nie alleen en in stilte moet ly nie.
  2. Moenie terugantwoord nie – Persone wat ander mense anoniem afknou, wil gewoonlik ’n reaksie uitlok, maar deur nie op die boodskappe te reageer nie, verseker jy dat die boelie nie enige vorm van bevrediging ervaar nie.
  3. Bewaar die bewyse – Dit is baie belangrik vir indien die afknouery erger raak. ’n Foto of skermgreep is ’n doeltreffende en vinnige manier om bewyse te stoor.
  4. Rapporteer – Die meeste sosiale netwerke het ’n skakel waar negatiewe inhoud op hul platform gerapporteer kan word. Maak seker dat jy weet waar dit is en moenie bang wees om dit te gebruik nie. Dit is ’n vinnige en doeltreffende manier om enige aanstootlike boodskappe of foto’s af te haal. As die afknouery op ’n selfoon plaasvind, kan jy ook met jou selfoonnetwerk in verbinding tree, wat vir jou verder leiding sal gee hieroor.
  5. Blokkeer – Die meeste sosiale netwerke het ’n blokkeer-opsie wat jou toelaat om interaksies met ander gebruikers te stop. Inligting oor hoe dit gedoen kan word, verskyn gewoonlik in die platform se veiligheidsopsies. Op selfone kan dit gewoonlik onder instellings (“settings”) gedoen word.
  6. Privaatheidsinstellings – Met die meeste sosiale netwerke kan jy jou privaatheidsinstellings so verander dat jy nie interaksie met mense kan hê met wie jy nie wil kommunikeer nie.
  7. Polisie – Wanneer jy dink dat ’n voorval ernstig genoeg is om as ’n strafbare oortreding beskou te word, kan jy jou plaaslike polisiekantoor kontak en die saak rapporteer. Skakel die polisie by 10111, of Childline South Africa by 08000 55 555.

AfriForum se teenboelieveldtog besoek laerskole ter bewusmaking van boeliegedrag en wat gedoen kan word om afknouery in skole hok te slaan.

Soortgelyke plasings