|

DIE NGV IS NET NÓG ’N MANIER OM TE PLUNDER

Deur Jacques Broodryk

Baie argumente is al gemaak oor waarom die instelling van ’n sentrale mediese fonds soos die Nasionale Gesondheidsversekering nodig is en selfs die morele ding is om te doen. Persoonlik dink ek jy gaan ver moet soek om iemand te kry wat nie bereid sal wees om sy medelandsburgers mediese dienste van gehalte te gun wanneer hulle dit nodig het nie, ongeag of hulle dit kan bekostig of nie.

Maar as ons verby die ANC se utopiese beloftes kyk, staar ’n strak realiteit ons in die gesig.

Die staat het met sy hantering van die COVID-19-penarie dit vir die soveelste maal duidelik gemaak dat dit geheel en al bokant sy vuurmaakplek is en dat hy nie oor die vermoë of politieke wil beskik om doeltreffend te regeer nie. Dink maar aan die miljoene rande wat gemors is op mediese bromponies in die Oos-Kaap, wat uiteindelik nie geskik was om pasiënte mee te vervoer nie. Of die veldhospitale en ekstra mediese infrastruktuur wat glo gebou sou word tydens die eerste inperking. Moet ook nie vergeet dat daar ’n tyd was toe mens nie gekookte kos kon koop of plakkies mag gedra het nie, glo weens die virus.

Die Bybel sê vir ons dat ’n boom geken word aan die vrugte wat hy dra. As ons deur dié bril na die staat kyk en hom op sy dade beoordeel, is dit duidelik dat die NGV ’n nuwe voertuig vir kaderverryking gaan word. Die fonds gaan geplunder word deur korrupte amptenare en die mediese stelsel gaan ineenstort.

Nog ’n bekommernis is die feit dat die regering tydens die COVID-19-katastrofe ras as maatstaf gebruik het om te bepaal watter besighede vir finansiële bystand kwalifiseer. Wat sal die staat keer om voorkeur te gee aan swart pasiënte of om swart dokters eerste te betaal, sou die fonds in die lewe geroep word?

Die oplossing vir Suid-Afrika se probleme is nie om die staat meer beheer oor ons geld te gee nie. Dit is presies die teenoorgestelde: hoe minder toegang die regering tot belastinggeld het, hoe beter, en hoe minder ons van die staat afhanklik is vir dienste, hoe beter.

Die NGV is net nog ’n poging deur die ANC om ’n blink pleister oor ’n swerende wond te plak en te hoop die probleme in die openbare gesondheidsektor verdwyn – terwyl dit terselfdertyd ’n goue geleentheid skep om verder te plunder.

Soortgelyke plasings