|

Die plan anderkant staatsverval en meerderheidsoorheersing

 

Elke geslag het sy eie leiers wat op ’n gegewe tyd met insig en wysheid na die uitdagings en bedreigings van daardie betrokke geslag kyk.

Vir die Afrikaner vandag, in 2019 in Suid-Afrika, is Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Bewering, een van daardie leiers.

Soos wat die historikus prof. Hermann Giliomee dit stel: “Buys is die Vader J.D. Kestell van ons tyd. Kestell het in die 1930’s die gevleuelde woorde ‘’n Volk red homself’ gebruik wat Afrikaners tot aksie aangespoor het om hulself uit armoede te lig en eie ondernemings te stig. Sewentig jaar later is dit Buys wat Afrikaners tot besinning en die besef roep dat hul voortbestaan onder die ANC-regering gedoem is en dat die pad na selfbestuur die antwoord op hul bestaanskrisis is.

Buys se boek, Die pad na Selfbestuur: Anderkant die mislukking van staatsbestuur het vandeesweek verskyn. In die woorde van Giliomee “kom dit op geen beter tydstip as nou nie en moet dit dringend en deeglik gelees word deur almal wat ’n premie plaas op die Afrikaners se voortbestaan in hierdie wye, droewe, maar ook verruklike land”.

Buys het die dilemma en probleme wat Suid-Afrikaners (die Afrikanerminderheid in die besonder) ná die 1994-oorgang in die gesig staar, al male sonder tal uitgewys en in diepte ontleed.

In sy boek verskuif die fokus na waarheen nou en hoe. Soos hyself sê: “Ons kan nie op die ashoop van wanhoop gaan sit nie. Afrikaners het vandag drie toekomskeuses: die eerste is emigrasie, die tweede is om te wag dat staatsbestuur verbeter en die derde is om saam te bou aan groeiende selfbestuur.

“Ons kies die derde weg – selfbestuur. Die eerste weg, emigrasie, bly ’n oplossing vir enkelinge, maar nie vir ’n hele volk nie. Ons wil nie die wat trek verloor nie, maar ons wil ook nie dat hulle hul gemeenskap verloor nie. Ons kan nie weggooi wat oor meer as drie eeue hier opgebou is nie. Dan sal al die bloed en trane en opofferings van al die geslagte voor ons vergeefs wees.”

Buys se boek dui die rigting vir die Afrikaner se toekoms aan waar die eindpunt van selfbestuur daar is waar hulle vry, veilig en voorspoedig is. Om by daardie eindpunt te kom, gaan ’n veelheid van dinge in die toekoms moet gebeur soos ’n groter konsentrasie van Afrikaners in bepaalde dorpe en stedelike gebiede en die ontwikkeling, opbou en uitbreiding van eie instellings. Tans is Afrikaners se groot probleem nie hul getalle nie, maar hul yl verspreiding.

Prof. Koos Malan, verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê Buys se boek toon aan dat Afrikaners ’n bepaalde rubicon oorgesteek het. “’n Bepaalde orde in die land het tot ’n einde gekom en ’n nuwe is op pad. En Buys se boek fokus op die doenbare dinge om by ’n nuwe orde vir Afrikaners uit te kom.”

Volgens Malan is daar kennis, wysheid en insig in die boek en is dit tyd dat Afrikaners besef waar hul plek is en wat hulle te doen staan om daardie plek in te neem en vol te staan. “Afrikaners is uitgelewer en moet nou baie vinnig tot verhaal kom om te begryp waarheen hulle moet gaan om by ’n beter toekoms vir hulself en hul nageslagte uit te kom.”

Die boek kos R300 en by Kraal Uitgewers by www.kraaluitgewers.co.za beskikbaar.

Soortgelyke plasings