|

Die standbeeldedebat – plaaslike en internasionale menings hieroor

Alana Bailey

Suid-Afrika is nie die enigste land wat stoei met vraagstukke oor die behoud van standbeelde en monumente wat kontroversiële gebeure of persone in openbare ruimtes herdenk nie. Reeds jare lank word die debat net so fel in onder meer Europese lande en die VSA gevoer.

Aanvanklik het die debat in die VSA op standbeelde van leiers van die Gekonfedereerde State tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1865) gefokus. Tans kring dit wyer uit, met byvoorbeeld standbeelde van die ontdekkingsreisiger Christopher Columbus wat die afgelope maande in Massachusetts, Minnesota and Virginia onthoof is.

In ’n lang, vurige debat oor die vraag Moet monumente vir die Gekonfedereerdes behou word omdat ons dit nodig het om ons aan die geskiedenis te herinner? [https://www.quora.com/Is-it-true-that-Confederate-monuments-shouldnt-be-removed-because-we-need-them-to-remind-us-of-history] het deelnemers interessante kommentaar gelewer. Hiermee my parafrasering van enkele standpunte oor die behoud van erfenishulpbronne in die openbaar wat hulle spesifiek oor die Amerikaanse vraagstuk gelug het, maar wat eweseer op die Suid-Afrikaanse erfenislandskap van toepassing kan wees.

  • Wat is die verskil tussen die magte van ISIS wat erfenishulpbronne vernietig en enige ander persoon wat dit doen?
  • Temaparke vir standbeelde wat mense ongemaklik maak, is nie ’n oplossing nie. Geskiedenis word nie in openbare parke geleer nie, maar politiek wel.
  • Bloot die feit dat hierdie debat oor standbeelde en monumente gevoer word, lei tot besprekings oor die historiese gebeure daaragter en in die proses leer mense meer oor die geskiedenis as gevolg van die monumente. As ’n metaalvoorwerp hierdie leerproses aan die gang kan kry, is dit mos al genoeg rede om dit te behou.
  • Ongemak is nie genoeg rede om standbeelde af te takel nie. ’n Grootse nasie probeer niks verberg nie, maar maak die verlede juis openbaar om daaroor te herbesin.
  • Iemand wat sê dat hy nie ’n standbeeld wil sien nie, sê eintlik hy wil eerder onkundig bly en nie met ingewikkelde feite gekonfronteer word nie. As jy nie jou geskiedenis ken nie, moenie dit deur verskuiwing en vernietiging probeer herskryf of verdraai om by jou stiksienige ideologie van onkunde en haat te pas nie.
  • Om monumente en standbeelde stelselmatig te verwyder of te beskadig weens die onderwerp wat dit verteenwoordig, is in wese sensuur. Ons moet alle fasette van ons geskiedenis leer ken en daaruit probeer leer. Dis verkeerd om op die relikwieë van die geskiedenis te fokus, pleks van die geskiedenis self.
  • Die interessante ding van die geskiedenis is dat dit deurentyd verander. Die feite daarvan verander nie, maar ons insig en interpretasie daarvan wel. Standbeelde is deel van die geskiedenis en hul betekenis verander daarmee saam. Ons kan die beskikbare inligting daaroor neem en herinterpreteer om die verlede steeds meer akkuraat te weerspieël. Ons kan die politieke en maatskaplike afdraaipaadjies uit die feite probeer sif en dit vanuit ons eie kennis beoordeel. Net so kan die generasies ná ons dit weer opnuut interpreteer. Behou die monumente en standbeelde en gun daardie reg vir elke volgende geslag.
  • ’n Monument maak van niemand ’n held nie. Oorspronklik was hy of sy dalk wel ’n held vir die mense wat dit opgerig het, maar ons kan die persoon se rol heroorweeg en by nabaat dalk anders besluit.
  • Hou ruimte vir alle monumente en standbeelde en laat hulle ons almal daaraan herinner dat ons ons eietydse leiers en helde ook objektief moet probeer beskou, sonder om goddelike eienskappe aan blote sterflinge toe te ken.
  • Selfs skurke se beelde kan ons herinner dat iemand wat dalk dapper en edel voorkom, growwe foute kan maak. Dit herinner ons aan ons almal se feilbaarheid en dat dit wat nou in onskuld vir ons reg lyk, deur komende geslagte anders gesien kan word.
  • Niemand het die reg om ’n ander se waardes te veroordeel nie ‒ dit gebeur net in ’n diktatuur. Besoek die standbeelde wat jy wil besoek, en ek sal die standbeelde besoek wat ek wil besoek. As ek nie inmeng met jou waardering vir standbeelde wat vir jou van besondere betekenis is nie, moet jy ook nie inmeng met my waardering vir standbeelde wat vir my van besondere betekenis is en wat ek graag wil sien nie. Dít is wat ware vryheid is.

Die standpunte wat ek hier opgesom het, is hoegenaamd nie ’n poging om objektief te wees nie, want soos hierbo genoem, het ek die betoë vir die verwydering of selfs vernietiging van beelde weggelaat. Dit is wel kommentaar wat ’n mens laat nadink oor die betekenis van hierdie soort bakens en hulle rol in openbare ruimtes.

AfriForum se standpunt bly dat verskuiwing slegs as laaste uitweg oorweeg moet word, en vernietiging en temaparke glad nie. Dit is ook al in verskeie artikels gemotiveer:

In ’n meningstuk [https://www.nbcnews.com/think/news/opinion-why-i-feel-confederate-monuments-should-stay-ncna767221] met die titel Don’t take down Confederate monuments. Here’s why skryf die joernalis Sophia A. Nelson in 2017 dat sy nie die standbeelde van dooies vrees nie. “Wat ek vrees is, die haat wat ons intyds sien … op sosiale media, op ons kampusse, in ons werkplekke en in ons politieke retoriek,” het sy verduidelik.

Haar standpunt sluit aan by die betoog van die Internasionale Strafhof se aanklaer, Fatou Bensouda, wat sy gelewer het tydens die waterskeidende saak van dié hof teen Ahmad al-Faki al-Mahdi, wat op klagtes van erfenisskending skuldig bevind is. Bensouda het naamlik verklaar:

Vandag se verhoor is inderdaad histories. En dit is des te meer histories, gesien in die lig van die vernietigende woede wat ons era kenmerk, waarin die mensdom se gesamentlike erfenis onderwerp word aan herhaaldelike en beplande vernietiging deur enkelinge en groepe wat hulleself ten doel stel om die uitbeelding van enige wêreld wat van hulle s’n verskil, te verwoes deur die fisiese manifestasies daarvan wat aan die hart van gemeenskappe lê, te vernietig. Die verskille en waardes van hierdie gemeenskappe word sodoende eenvoudig ontken en uitgewis.

Verskuiwing en vernietiging is nie tekenend van regstelling en begrip nie, maar wel van onverdraagsaamheid.

In Suid-Afrika kom nog ’n dimensie by, naamlik dat voorbeelde van die onbeholpenheid en korrupsie van politici en die amptenary oral te vind is, en dat erfenis dan ’n handige weerligafleier bied. Om ’n straatnaam te verander of ’n beeld te skuif, verg veel minder moeite as om Eskom, SAL of die SAUK reg te ruk, of verdwene COVID-19-fondse op te spoor. Die aksie teen erfenis skep die wanindruk van kragdadige optrede, mag en bekwaamheid. Dit stel die gemeenskap wie se erfenis sodoende geteiken word as eintlike sondebok op en vervreem hulle van die res van die land.

Enige aksie om geloofwaardigheid aan hierdie soort optrede teen erfenis te gee, lei nie tot vooruitgang en vrede nie, maar skep juis die risiko van verlammende verdeeldheid en geweld.

Soortgelyke plasings