|

DIE TOEKOMS EN DIE IMPAK WAT SPORT DAAROP HET

Deur Ronald Peters

Wanneer ek met vriende en familie oor die toekoms gesels, draai die gesprekke dikwels na onderwerpe (en soms ook argumente) oor hoop en wanhoop. En daarmee saam ook sport. Want in my binnekring is sport een van die grootste bronne van hoop. Met toenemende politieke inmenging in sport op verskeie terreine kan ek verstaan waarom mense soms ’n bietjie wanhopig raak – maar ongeag ideologiese agendas wat sport in Suid-Afrika bedreig, is daar soveel om oor hoopvol te wees, soos AfriForum Sport.

Met AfriForum Sport wil dié burgerregteorganisasie die toekoms van sport in ons gemeenskappe in ons eie hande neem. Só sal gemeenskappe self geleenthede kan skep vir die ontginning en ontwikkeling van sporttalent en ook ’n platform daarstel wat gelykheid bevorder en waar almal toegang tot die nodige hulpbronne het. Op dié manier sal daar opnuut hoop onder oud en jonk geskep word deur middel van sport.

As ek terugdink aan my kinderdae, het sport beslis ’n integrale rol gespeel in my geluk en die hoop wat ek vir ’n blink toekoms begin vorm het. As kind, wie se eerste ware liefde beslis sport was, was daar geen beter bron van motivering as die gedagte dat ek eendag vir een van ons land se nasionale spanne sal kan uitdraf nie. Jou totale visie vir jou toekoms was rondom sport gebou en niks anders, behalwe natuurlik kos, het regtig saak gemaak nie. Al het hierdie droom ongelukkig nooit gerealiseer nie, het dit nogtans ’n baie belangrike rol gespeel in die aanleer van kritieke vaardighede soos konflikhantering, spanwerk en die wete van wat dit verg om hard te werk vir iets wat jy wil bereik, om net ’n paar te noem. Sport en ander buitemuurse aktiwiteite speel ook ’n integrale rol in die algehele welstand van kinders, en die krag van hierdie bron van hoop moet nooit onderskat word nie. Om hierdie rede is dit belangrik dat liggame soos AfriForum Sport in samewerking met ander instansies verseker dat ons jeug toegang het tot die nodige hulpbronne en geleenthede.

Namate ek ouer geword het, kon ek die waarde van sport in die ontwikkeling en vestiging van vriendskappe en waardevolle verhoudings ook begin waardeer. Ek kon begin raaksien dat die krag van sport nie slegs in die professie daarvan lê nie, maar ook in die beoefening daarvan op ’n sosiale en gemeenskapsbasis. Ek het persoonlik beleef hoe sport baie persepsies wat deur verskeie rolspelers geskep is, bevestig of verander het, meestal positief. Ek het verder beleef dat sport mense en groepe wat normaalweg nie oor die weg sou kom nie, byeengebring het en hoe dit toekomstige samewerking en groei bewerkstellig het. Hier noem ek graag ’n geskiedkundige gebeurtenis in ons land se sport, toe die Springbokke in 2019 weer eens as Wêreldbekerkampioene gekroon is. Vir ’n oomblik was al die uitdagings en terugslae vergete en almal kon saamtrek om dié oorwinning te vier. Dit som die krag wat sport in ons gemeenskappe het, baie mooi op. Daarom is dit vir ons by AfriForum Sport uiters belangrik om ook sosiale sportgeleenthede in gemeenskappe te ontwikkel en te bevorder.

Ongelukkig bevind ons ons in ’n situasie in ons land waar politici nie noodwendig gefokus is op die positiewe effek wat sport in gemeenskappe en die ontwikkeling daarvan kan hê nie. Ons hoef egter nie moed te verloor as gevolg hiervan nie, omdat ons nooit al ons hoop op individue plaas nie – dit sal eenvoudig net onverantwoordelik wees. AfriForum het wel die behoefte raakgesien en besef dat iemand leiding sal moet neem om die toekoms van gehalte en meriete met betrekking tot sport in ons land te verseker. AfriForum Sport se hande word versterk deur individue en instansies wat saam met ons glo dat daar nog hoop is vir sport in die land, en dίt gaan help om projekte van stapel te stuur wat weer hoop vir individue in ons gemeenskappe gaan gee. Ons kan en mag nooit moed verloor nie.

Word deel van ’n sportgemeenskap wat saam bou. Word deel van AfriForum Sport. Die bal is in jou hande.

Ronald Peters is die bestuurder van AfriForum Sport.

Soortgelyke plasings