|

Die toekoms van Afrikaans is groot, oop en opwindend – AfriForum stel video bekend

(Foto’s:  Rozier van Tonder)

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag sy tweede SLIM-video ter bevordering van moedertaalonderrig in Pretoria bekendgestel.
Die SLIM-veldtog staan vir Studeer en Leer In jou Moedertaal. Dit het in 2014 afgeskop en is daarop gemik om skoliere, voornemende studente en hul ouers in te lig oor die waarde en voordele van moedertaalonderrig.

In die nuutste video verduidelik jongmense soos David Krynauw, internasionale meubelontwerper, Reuben Riffel, koskenner en sjef, Karien van Emmenes, entrepreneur-roomysmaker, Piet Matipa, rubriekskrywer, Mercia Lesch, belastingouditeur en Gielie Hoffmann, geestesbreier, hoekom hulle ’n passie vir Afrikaans het en hoe hulle hulle ten volle in hul taal in hul werksomgewing kan uitleef.
Volgens David is Afrikaans ’n kreatiewe taal met ’n kultuur en dit speel ’n onmisbare rol in sy lewe.

Vir Karien is dit lekker om haar kliënte in Afrikaans te kan bedien. Piet meen daar is oneindig baie werksgeleenthede in Afrikaans. “Daar is beslis plek vir Afrikaans in die land en mense onderskat die krag van die taal.”
Vir Mercia was dit ’n voorreg om in Afrikaans te kon skoolgaan en studeer. Volgens haar het hulle ook baie kliënte bygekry omdat hulle finansiële state met hulle in hul moedertaal kan bespreek.

Gielie is bly dat hy met ’n sportman/vrou se kop en hart in Afrikaans kan praat. Ek kan hulle help om ’n kompeterende voordeel te kry, om sin te maak uit iets en om vas te byt tot die einde. “Dit is ’n voorreg om dit in my moedertaal te kan doen.”
Reuben het grootgeword in Afrikaans en in die wêreld van kosmaak, is hy bly om te kan sê dat een van die grootste komplimente wat hy nog ooit gekry het, in Afrikaans was. “Ek droom en kook in Afrikaans en kan my kultuur net soveel beter daarin uitleef.”
Adv. Gretha Engelbrecht was die gasspreker by die bekendstelling van die video. Sy was onlangs betrokke by die hofsaak teen die Gautengse LUR van onderwys, wat ’n klomp Afrikaanse skole geteiken het om parallelmedium te word. Die hof het teen die LUR uitspraak gelewer.|

Engelbrecht het gesê daar is dikwels vrae soos of dit nie maar beter is om in Engels onderrig te word nie, omdat die wêreld van werk in Engels is.
Sy meen egter mense wat in hul moedertaalonderrig word, het ’n instinktiewe verstaan van woorde en hul kultuur. “Hoe verduidelik jy werklik vir iemand wat ’n koeksister is en hoe jou ma se boontjiesop proe as jy dit nie in Afrikaans kan doen nie?”
Engelbrecht het gesê mense moenie arrogant oor Afrikaans wees nie. “Om in Afrikaans onderrig te kan kry, is ’n voorreg en iets wat die moeite werd is om voor te veg.”
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het op die voordele van moedertaalonderrig gewys soos dat dit probleemoplossing-vaardighede, redenasievermoë, die aanleer van ander tale, begrips- en luistervermoë en begrip van abstrakte konsepte verbeter.

Sy het gesê ten spyte van die feit dat die regering doelbewus standpunt teen Afrikaans inneem, is die toekoms van die taal groot, oop en opwindend. “Studente en ouers moet net besef hoe noodsaaklik en voordelig dit is om die SLIM én regte keuse te maak.”
Carien Bloem, koördineerder van die veldtog, het gesê: “Ons word daagliks al hoe meer daarvan bewus dat Afrikaans as onderrigtaal in skole en universiteite bedreig word, maar as leerlinge en studente aandring op Afrikaans as onderrigmedium, sal Afrikaans as hoëfunksietaal gedy.”

Verskeie kunstenaars soos Jako Meyer van Moses Metroman, Edrien Erasmus, verhoogkunstenaar, Tiaan Erasmus en Francois van Rensburg, het gewilde Afrikaanse liedjies gesing, terwyl ’n groep gr.11-leerlinge van die Afrikaanse Hoër Seunskool ’n toespraak gelewer het oor waarom jongmense “Afrikaans nie ligtelik opneem nie” en waarom “dit nie net ’n taal vir die inwoners van Huis Herfsblaar is nie”.
Afrikaans is ’n taal wat moet uitbars in die helder kleure van die lewe, het een gesê.

Sien die video hier:

Soortgelyke plasings