|

Die A tot Z van wat AfriForum doen

AfriForum kry dikwels navrae van die algemene publiek oor presies wat die organisasie doen of waarvoor dit staan. Mense wil ook gereeld op sosiale media weet waarom die burgerregtewaghond by sekere veldtogte, hofsake of aksies betrokke is. Hierdie artikel som die A tot Z van AfriForum op.

A: Ons woeker vanjaar in agt ankerdorpe met aksies rondom omgewingsake, munisipale kwessies, boelies in skole en gemeenskapsveiligheid. Die projek skep hoop in gemeenskappe en spoor mense aan om self moue op te rol.

B: In 2018 is altesaam 3 000 bome regoor die land geplant as deel van ons jaarlikse boomplantmaandveldtog.

C: AfriForum streef Christelike beginsels en waardes na en het onder meer ’n Hou God in Skole-veldtog geloods.

D: In 2018 het ons in samewerking met boere en weldoeners gehelp om meer as 500 ton se voer aan boere in droogtegeteisterde gebiede af te lewer as deel van ons droogteveldtog.
E: AfriForum dryf talle veldtogte ter beskerming van eiendomsreg. Veldtogte, petisies en voorleggings word plaaslik én internasionaal teen sowel onteiening sonder vergoeding  as onwettige grondgrype onderskeidelik gedryf, geloods en gemaak. Dr. Motodi Maserumule, ’n grondeienaar, word tans bygestaan met ’n eis van R500 000 teen polisieminister Bheki Cele nadat die SAPD hom nie wou help om onwettige grondbesetters te verwyder nie.

F: AfriForum bevorder kommunikasie deur eie mediaplatforms soos Forum Nuus, Forum Tydskrif en Forum Films. Twee dokumentêre films getiteld Tainted Heroes en Disrupted Land is onderskeidelik in 2016 en 2019 vervaardig en vrygestel om ’n verdraaiing van die geskiedenis reg te stel.

G: AfriForum is ’n gemeenskapsorganisasie wat hom vir gemeenskapsveiligheid en behoorlike plaaslikeregeringsake beywer. Ons het 138 buurtwagte, waarvan 38 samewerkingsooreenkomste met hulle plaaslike SAPD-takke onderteken het. In 2018 is 608 761 km in meer as 1,2 miljoen manure tydens die nasionale patrollies afgelê. Altesaam 20 049 patrolleerders in 10 772 voertuie was betrokke.

H: AfriForum pak talle hofsake aan om gelykheid voor die reg te verseker. Adv. Gerrie Nel en sy privaatvervolgingspan is tans besig met sake teen Thandi Modise, Alexis Bizos, Grace Mugabe, die moordenaars van ’n voormalige Rwandese intelligensiehoof en die motorreus Ford. In die meeste van die sake wou die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie vervolg nie. Ons ingryping het egter ’n ommekeer tot gevolg gehad en van die sake is reeds in ’n gevorderde stadium.

I: AfriForum fokus ook op internasionale skakeling. Talle besoeke is aan Europa, Australië en die VSA gebring. Voorleggings is aan forums van die Verenigde Nasies (VN) gemaak waar pleidooie vir die erkenning van Suid-Afrikaanse minderhede se regte gelewer is. AfriForum het ook ’n Wêreldwyd-inisiatief wat Suid-Afrikaners in die buiteland op hoogte hou van wat in die land aangaan.

J: AfriForum Jeug het ten doel om jongmense op universiteitskampusse en in dorpe bymekaar te bring waar strukture gevestig is. Dit is ’n spreekbuis vir jongmense teen wie gediskrimineer word. Jongmense word bemagtig om vir hul moedertaal, kultuur en tradisies op te staan. Die De Goede Hoop privaat koshuis is ook op die been gebring om vir Afrikaanse studente ’n tuiste weg van die huis te wees.

K: AfriForum glo in die uitbouing en bevordering van Afrikaners se kultuur. Talle projekte word aangepak ter beskerming van monumente, standbeelde en erfenisterreine. Daar is byvoorbeeld ook Kraal Uitgewers by die AfriForum-hoofkantoor wat onder meer op die publisering van gehalteboeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis fokus.

L: AfriForum is in staat om te doen wat hy doen danksy sy lede. In 2006 het die organisasie 4 personeellede en 560 lede gehad. Vandag is die ledetal bykans 220 000.

M: AfriForum bevorder moedertaalonderrig. Daar is die Dink of Sink-debatskompetisies vir sowel skole as universiteite wat jongmense toerus om in Afrikaans te redeneer en te dink. AfriVriendelik is ’n inisiatief wat entrepreneurskap en Afrikaanse ondernemings deur die AfriForum Netwerk bevorder. Die AfriForum Netwerk-databasis het reeds die 1 000-kerf oorskry.

N: In 2019 het AfriForum sy 911-noodtoep bekend gestel wat lede op hul selfone kan aflaai. Deur die toep te gebruik, kry lede toegang tot hulp in tye van nood.

O: AfriForum is ’n organisasie wat hom toespits op die beskerming van minderhede se burgerregte.

P: Plaasmoorde en -aanvalle is buite beheer. Die bewusmaking daarvan en druk op die regering om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar, is een van AfriForum se grootste veldtogte. In 2018 was daar sowat 432 plaasaanvalle en 54 plaasmoorde. AfriForum se aksies behels petisies, voorleggings, optogte en internasionale bewusmakingstoere na die VSA en ander lande hieroor. Ernst Roets se boek Kill the Boer het ook die lig gesien en belig dié krisis.

Q: Op 16 Desember 1949 het dr. D.F. Malan die Voortrekkermonument met die woorde “Quo Vadis, Afrikaner?” geopen. AfriForum hou hom daagliks met die vraag besig oor waarheen die Afrikaner op pad is. Op elke lewensterrein is die organisasie besig om na oplossings en antwoorde te soek sodat Afrikaners as minderheid blywend vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan.

R: AfriForum baklei verbete teen rassisme, haatspraak en dubbele standaarde. Klagtes word deurlopend teen individue soos Julius Malema, leier van die EFF, en Andile Mngxitama, BLF-leier, oor haatspraak ingedien. AfriForum maak ook voorleggings om wetgewing rondom rassisme en haatspraak te beïnvloed. AfriForum gaan ook ’n bevinding van die Menseregtekommissie (MRK) ten gunste van Malema se uitsprake in die hof uitdaag.

S: Die herstel van slaggate is ’n groot prioriteit om plaaslike gemeenskappe te verbeter. In 2018 is meer as 400 ton teer gebruik om 14 500 m² se slaggate te herstel.

T: AfriForum het ’n netwerk van 130 takke regoor die land. Die takke en meer as 9 000 vrywilligers en taklede maak dit moontlik om kwessies op munisipale vlak te takel.

U: AfriForum veg teen die uitsluiting van minderhede wat weens regstellende aksie, kwotas in sport en by universiteite en die werkplek benadeel word. Veldtogte ter bewusmaking van diskriminasie teen minderhede word deurlopend aangepak.

V: ’n Skoon en besoedelvrye omgewing is vir AfriForum belangrik. In 2018 is 116 vullisterreine geoudit en 136 skoonmaakaksies in parke, strande groenstroke en begraafplase van stapel gestuur.

W: AfriForum poog om die watergehalte in Suid-Afrika te verbeter. Die jaarlikse blou-en-groendruppelprojek toets die watergehalte van 199 dorpe om te verseker dat meer as 10 miljoen mense toegang tot skoon drinkwater het.

X: AfriForum is ’n burgerlike organisasie wat buite die partypolitiek funksioneer en nie homself aan enige politieke party verbind nie, maar motiveer sy lede op wel te stem en hulle X te trek in verkiesings om opposisiepartye te versterk.

Y: AfriForum werk op talle terreine ywerig om minderhede se regte ten opsigte van taal, kultuur en geskiedenis te beskerm. Inligting in hierdie verband word wyd via sosiale media oorgedra en reekse soos Kaalvoethelde word vervaardig om die korrekte inligting oor geskiedkundige helde en legendes op film vas te lê.

Z: AfriForum het die verval van die land onder die Zuma-regering uit die staanspoor teengestaan. Talle klagtes van korrupsie deur oudpres. Jacob Zuma en die Guptas word steeds ondersoek. AfriForum het ook met regstappe teen Zuma se seun Duduzane begin om te wys dat hy ook nie bo die reg verhewe is nie. Duduzane staan tans tereg op aanklag van strafbare manslag ná die dood van ’n vrou tydens ’n motorongeluk waarby hy in 2016 betrokke was. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wou hom aanvanklik nie vervolg nie, maar het die besluit hersien ná druk deur AfriForum.

Soortgelyke plasings