Die (ver)KEER(-sdepartement)

’n Bejaarde tannie wat binnekort vir ’n skoueroperasie moet gaan staan in ’n lang ry by die verkeersdepartement. Sy moet haar lisensie hernu. Haar kleinseun sê sy behoort eerste gehelp te word, omdat sy ’n bejaarde is. Die tannie skep moed en vra op grond hiervan vir hulp. Die staatsamptenare weier om haar te help, want “jy is nie grys nie” sê hulle onbeskof.

’n Jong man moet verlof neem by sy werk, want hy weet dit neem die hele dag om by die verkeersdepartement gehelp te word. Hy staan reeds van 04:00 af, in die Vrystaat se snerpende winter, in die ry. Hy is nie eerste daar nie – voor hom staan ’n jong man wat sê dit is sy hoeveelste probeerslag om die diens, wat die departement veronderstel is om te bied, te kry. Toe die kantoor uiteindelik na 08:00 oopmaak sê die personeel vir die ry wat eksponensieel gegroei het, “ons kan julle nie help nie, die water is af.” Verder hoor die moedelose mense in die lang ry dat die kantoor self besluit het hulle hanteer slegs op Dinsdae en Donderdae lisensie-hernuwingsaansoeke, maar dat die water Dinsdag en Donderdag gaan “af wees.”

’n Ma moet haar dogter neem om ’n afspraak te maak vir haar leerlinglisensie. Dit is hulle vierde probeerslag. Hulle het reeds by twee buurdorpe pogings aangewend om voor die tiende persoon in die ry by die verkeersdepartement te wees, want “ons help net tien mense per dag,” word daar vir hulle gesê. Hierdie keer het hulle 02:00 in die motor geklim om 02:30 darem derde in die ry te beland. Sukses! En toe… blouligte en sirenes. ’n Polisieman trek hulle af, want hulle is voor “curfew” op die straat. Hoe verduidelik hulle dat hulle genoodsaak is om dit te doen om ’n basiese staatsdiens te ontvang. Dit klink mos soos ’n rooikappie-storie?

Die bogenoemde stories is van mense wat almal deel is van een familie. Kan jy jouself indink hoeveel skokkende stories soos dié landswyd oor hierdie kwessie bestaan? In Maart vanjaar was daar reeds ’n allemintige 500 000 agterstallige aansoeke om bestuurderslisensies te hernu. Die minister van Vervoer, Fikile Mbalula, het self erken dat die beroerde situasie te wyte is aan foutiewe toerusting, probleme met die aanlyn Natis-stelsel en korrupsie.

Dit is waarom AfriForum al vir ’n geruime tyd voortgaan met die geveg teen die Departement van Vervoer se belaglike vlak van dienslewering. Die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, ondersoek die klag van korrupsie en wanbestuur wat AfriForum in September 2021 ingedien het. Vroeg in 2022 het AfriForum verder beeldmateriaal aan haar gestuur wat die wanfunksionering van die aanlynstelsel en korrupsie aan die kaak stel.

Die (ver)KEER(-sdepartement) keer deur hulle patetiese dienslewering dat motoriste hulle lisensies kan hernu om “wettig” op die pad te wees. Daarom gaan AfriForum hulle keer om verder voort te ploeter met onbenullige “dienslewering” wat vir Suid-Afrikaanse motoriste elke vyf jaar geld en tyd uit die sak jaag.

Die burgerregteorganisasie is besig om regstappe te doen teen die vereiste om lisensiekaarte elke vyf jaar te hernu. Daar is hofstukke ingedien om ʼn verklarende bevel te versoek dat hierdie padverkeersregulasies as buite die wetgewer se magte verklaar word, asook dat motoriste nie gepenaliseer mag word as hulle nie’n hernude lisensiekaart besit nie. Die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 bepaal nie dat motoriste vir nuwe lisensiekaarte moet aansoek doen wanneer dit verval, of dat dit ’n misdaad is om met ’n lisensie rond te ry wat verval het nie.

Dink net watter verligting dit vir die bogenoemde familie en alle Suid-Afrikaners sal wees as hulle nie meer elke vyf jaar met die verkeersdepartement se administratiewe, operasionele en finansiële gemors gekonfronteer hoef te word nie. Ek ondersteun beslis AfriForum se veldtog om te keer dat die (ver)KEER(-sdepartement) aanhou om die publiek wederregtelik te straf.

Soortgelyke plasings