|

Die wêreld moet kennis neem van burgerregteskendings in SA

 

AfriForum het vandag ’n omvattende internasionale veldtog vir die beskerming van burgerregte in Suid-Afrika van stapel gestuur en ’n verslag getiteld: The World Must Know – The persecution of minority communities in South Africa vrygestel.

Verskeie lande sal as deel van dié veldtog besoek word. Brandpunte waarop daar in die besonder gefokus sal word, sluit onteiening sonder vergoeding in, asook plaasmoorde, haatspraak en die Suid-Afrikaanse regering se heldeverering van menseregteskenders.

Die veldtog rus op drie bene, naamlik:

  1. Bewusmaking oor die situasie in Suid-Afrika;
  2. Steunwerwing onder meningsvormers, regerings en ander besluitnemers; en
  3. Mobilisering van die Suid-Afrikaanse diaspora en buitelanders wat ’n belang in Suid-Afrika het om tot sinvolle aksie oor te gaan.

Die verslag fokus op hoe minderhede se regte op verskeie terreine in die land geskend word. Dit bevat inligting en tientalle voorbeelde oor die regering se verwronge persepsie oor demokrasie, minderheidsregte en gelykheid, haatspraak teen minderhede, die aanval op minderhede se eiendomsreg en erfenis, asook die uitfasering van Afrikaans en ander minderheidstale in die openbare sfeer.

Die ANC-regering se heldeverering van sommige van die wêreld se grootste menseregteskenders en die gepaardgaande vyandigheid teenoor lande waarin menseregte in ’n groter mate beskerm word, word ook in die verslag uitgewys.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het spesifiek na die toekomstige gevolge van onteiening sonder vergoeding verwys asook die ANC-regering se verbreking van die ooreenkoms wat in 1994 bereik is. “Onteiening sonder vergoeding is nie in belang van enigiemand in die land nie. Daar mag voorgehou word dat dit ’n pro-armes-beleid is, maar in werklikheid is dat tot nadeel van elke individu en die hele land.”

Hy het verwys na wat in lande soos Venezuela en Zimbabwe gebeur het waar werkloosheid tot meer as 90% toegeneem het en die ekonomie in duie gestort het.

Kriel het gesê AfriForum het probeer om probleme plaaslik deur gesprekvoering op te los en sal voortgaan om dit te doen, maar dit is duidelik dat die ANC nie minderhede respekteer nie, maar eerder ignoreer en vals beskuldig. “Die ANC stel nie daarin belang om die land vorentoe te neem nie en luister nie na enige voorstelle of argumente nie. Ons sal moet pro-aktief optree om te voorkom dat beleggers Suid-Afrika op groot skaal verlaat en die land ten gronde gaan.”

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, het verwys na kwessies soos die ANC se heldeverering vir en beskerming van skenders van menseregte soos wyle Robert Mugabe van Zimbabwe, Muammar Gaddafi van Libië, Mao Zedong, ’n kommunistiese Chinese politikus en Omar al-Bashir van Soedan.

Hy het ook verwys na rassistiese uitsprake teen minderheidsgroepe wat deur individue soos Julius Malema van die EFF, oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule van die ANC gemaak is. Ook na uitsprake deur pres. Cyril Ramaphosa wat ontken het dat daar plaasmoorde of grondgrype is. Voorbeelde hiervan is in die verslag vervat.

Roets het ook verduidelik dat dit belangrik is om te verduidelik wat die ANC se siening rondom grondhervorming is. “Die ANC-beleid van herverdeling is rassisties en daarop gemik om grond van wit mense weg te neem en aan swart mense te gee.”

Volgens hom pas die ANC glad nie die beleid van restitusie toe waarmee AfriForum ook saamstem nie. Dit behels dat historiese ongeregtighede reggestel word en dat grond teruggegee word aan mense wat onregmatig daarvan ontneem is of dat hulle daarvoor vergoed moet word.

Die veldtog sal in Februarie met ’n besoek aan die VSA afskop. Dit sal ook voortgesit word met besoeke aan lande in Suid-Amerika, Europa, Afrika, Asië en Australië. AfriForum is ook van voorneme om die Verenigde Nasies (VN) te betrek deur met forums en rolspelers binne die VN te skakel met wie daar nie in die verlede gekorrespondeer is nie.

Soortgelyke plasings