|

Diensleweringstaal is lewensbelangrik in gesondheidsorg

Deur Alana Bailey

 Die afgelope maand is heelwat aandag in Suid-Afrika aan die kwessie van moedertaalonderrig gegee. Dit het saamgeval met die viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie.

Dié dag se fokus op veral onderrig kan aan die hand van die oorsprong daarvan verklaar word. In 1948 het die Pakistanse regering Oerdoe tot enigste nasionale taal van Pakistan verklaar, hoewel Bengali die taal van die meerderheid mense in Oos-Pakistan (vandag Bangladesj) en Wes-Pakistan (nou Pakistan) was. Eise dat Bengali ook as nasionale taal erken moes word, het gevolg. Om hierdie teenstand te probeer vernietig, het die regering openbare saamtrekke verbied, maar studente van die Universiteit van Dhaka het die verbod geïgnoreer en protesbyeenkomste gereël. Op 21 Februarie 1952 het die polisie op sodanige saamtrekke losgebrand. Vyf mense is gedood en honderde ander gewond. Hierdie tragiese gebeurtenis het aanleiding tot die Verenigde Nasies (VN) se verklaring van 21 Februarie tot Internasionale Moedertaaldag gegee. Die doel daarvan is “om die behoud en beskerming van alle tale te bevorder” en dit word sedert 2000 jaarliks herdenk.

Gerugte oor sterftes weens taalkeuses op ander terreine word ook soms gehoor. So is daar bewerings dat mense in ’n afgeleë deel van Afrika oorlede is toe gif gespuit is in ’n poging om malaria te voorkom. Waarskuwings oor die bedekking van kos- en watervoorrade is skynbaar slegs in Engels versprei, terwyl die plaaslike gemeenskap nie Engels magtig was nie. Geen bevestiging hiervan kon egter gevind word nie.

Persoonlik het ons familie ’n slegte ervaring met gesondheidsdienste gehad toe my ma, wat uiters allergies vir jodium is, weens ’n taalprobleem in ’n hospitaal met ’n jodiumbevattende middel behandel is. Sy was weens ’n allergiese reaksie dae lank in die hospitaal se intensiewesorgeenheid. Hierna het ek dikwels van soortgelyke gebeure by vriende en familie gehoor.

In 2018 het AfriForum ’n blitskonferensie oor die gebruik van Afrikaans in tersiêre onderwys aangebied. Hier het adv. Albert Lamey gewys op die gemeenskapsbelang daarvan om studente in hulle moedertaal en, in die geval van Suid-Afrika, in meer tale as net Engels op te lei (https://www.youtube.com/watch?v=Dzp_YFz_rSg&feature=youtu.be). Tydens sy referaat het die kollig opnuut op die belang van meertalige dienslewering in gesondheidsdienste geval.

Die noodsaak van mediese dienslewering in moedertaal is al in talle lande ondersoek. Volgens ’n artikel wat in 2014 in die Canadian Respiratory Journal verskyn het (https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC4128525/), is bevind dat swak kommunikasie vir die meeste voorkombare foute in akute mediese sorg in dié land verantwoordelik is. Die skrywers van die artikel voer verder aan dat wat gesondheidsorgpraktisyns aan pasiënte sê en hoe hulle dit oordra, ’n groot invloed op die pasiënte se ervarings en geneesproses uitoefen. Die studie het ook bevind dat verstaanbare kommunikasie die risiko van litigasie teen diensverskaffers verminder en hospitale se reputasie verbeter.

Soortgelyke resultate kom onder meer ook in ’n artikel voor wat in 2017 op GHD Online gepubliseer is (https://www.ghdonline.org/uploads/ Bridging_the_Language_Gap.pdf). Daarvolgens is bevind dat mense met beperkte Engelse taalvaardighede wat mediese behandeling in die VSA benodig, talle probleme in die gesig staar.

Met hierdie inligting in gedagte het ek in 2019 in samewerking met Johan Nortjé van die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) ’n meningspeiling onder AfriForum-lede gedoen om vas te stel wat hulle taalbehoeftes is wanneer hulle gesondheidsorgpraktisyns raadpleeg. Ons wou veral vasstel wat hulle taalgewys vereis wanneer hulle ’n mediese diensverskaffer kies, maar ook bepaal hoe algemeen negatiewe ervarings is wanneer hulle nie in hulle moedertaal diens kry nie.

Die 1 024 respondente was afkomstig uit al nege provinsies. Hulle was ouer as 18 jaar, bestaande uit 59% mans en 41% dames, met 96% wat oor matriek of ’n hoër kwalifikasie beskik. Van hulle het 85% verklaar dat taal bepaal watter praktisyn gekies word wanneer ’n keuse moontlik is en 83% het spesifiek genoem dat hulle verkies om diens in hulle moedertaal te kry.

Meer kommerwekkend was hulle terugvoer oor probleme wat ervaar is wanneer ’n tweede of derde taal vir kommunikasie met gesondheidsorgpraktisyns gebruik is ‒ 19,5% van die respondente het aangedui dat hulle al in mediese situasies was waar daar misverstande ontstaan het omdat hulle nie in hul moedertaal kon kommunikeer nie. Dit het ingesluit dat hulle nie simptome behoorlik aan die praktisyns kon verduidelik nie, dat hulle nie die newe-effekte van medikasie verstaan het nie, asook dat hulle nie die diagnose of behandelingsprosedure behoorlik kon verstaan nie. Uit hierdie groep het 13% geantwoord dat hulle lewensgevaarlike gevolge beleef het, 13% het letterlik maande lank geneem om te herstel, terwyl 8% lewenslange nadelige gevolge oorgehou het.

Die hoë voorkoms van probleme bewys dat meer navorsing oor die tema in die land noodsaaklik is. Taalkeuse kan letterlik die verskil tussen lewe en dood vir pasiënte beteken. Hierdie wete móét ’n rol speel wanneer instellings mediese praktisyns oplei. As professionele dienslewering aan Suid-Afrikaanse gemeenskappe die uitkoms is wat beoog word, is eentalige Engelse onderrig dus hoegenaamd nie voldoende nie.

Meertalige onderrig en dienslewering stel wel groot uitdagings aan die gesondheidsektor, maar die koste daarvan om hierdie behoefte te verontagsaam kan onberekenbaar hoog in terme van lewe en lewensgehalte wees. Dit moet as dringende prioriteit deur Suid-Afrikaanse navorsing- en onderriginstellings hanteer word.

Alana Bailey is hoof van kultuursake by AfriForum.

Soortgelyke plasings