Dikgatlong Munisipaliteit reageer nie op AfriForum-skrywe


Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy misnoeë uitgespreek oor die voortslepende rioolkrisis in Barkly-Wes, waaronder ’n rioolprobleem by die Mataleng-vierrigtingstop en twee primêre skole. AfriForum is sedert Oktober verlede jaar in ’n stryd met die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit gewikkel, waar die eerste skrywe aan die munisipaliteit reeds op 17 Oktober 2018 gerig is.

A.K. Modise, munisipale bestuurder van die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit, het op 1 November 2018 op AfriForum se eerste skrywe gereageer. Modise se brief noem dat die rioolprobleem by die Mataleng-vierrigtingstop herstel is en dat Longlands en Barkly-Wes Primêre Skool nagegaan is, waarvoor slegs ’n tydelike oplossing verskaf kon word. Hy beweer ook dat die oorsaak van die rioolverstoppings vreemde voorwerpe is wat deur die gemeenskap in die rioolstelsel gestort word.
Modise noem verder dat die munisipaliteit tans ’n ooreenkoms met ’n kontrakteur finaliseer om die rioolpompe op te knap sodat dit nie so maklik verstop raak nie. Deel van dié projek – wat deur die Departement van Waterwese befonds sal word – behels ook die installasie van ’n outomatiese pompstelsel om die stygende lading van die Dikgatlong-gemeenskap te dra. Verder sal die munisipaliteit ook grondwatertoetse in besoedelde gebiede doen om die impak van rioolstortings te bepaal.
AfriForum het Modise se brief van 1 November 2018 ontvang ná die burgerregte-organisasie onsuksesvol met Modise vergader het en AfriForum se Kimberley-tak genoop was om op 12 Oktober 2018 die Barkly-Wes Primêre Skool se terrein self skoon te maak en te ontsmet ná dit vir die derde keer deur riool oorstroom is.
In sy brief van 5 Desember 2018 het AfriForum die munisipaliteit vir hul antwoord bedank, aangesien dié soort kommunikasie dit vir AfriForum en munisipaliteite moontlik maak om saam te werk. AfriForum wou dit egter duidelik stel dat hy die regte van alle gemeenskappe hoog ag en dat die merkbare gebrek aan dienslewering teenstrydig is met Modise se sogenaamde bekommernis oor die gesondheid en welstand van die gemeenskap wat deur die Dikgatlong Munisipaliteit bedien word.
In dié opvolgbrief het AfriForum weereens aangedring dat die volgende maatreëls onmiddellik ingestel word:

  1. Die herstel van alle rioolstortings en -oorstromings in Barkly-Wes;
  2. ’n Ondersoek na die omvang van rioolblokkasies en -stortings in Barkly-Wes;
  3. Die uitvoering van ’n volledige oudit oor die toestand en geskiktheid van die huidige rioolpyplynstelsel in Barkly-Wes; en
  4. ’n Aksieplan aan AfriForum oor die nodige herstelwerk en opgradering aan die rioolstelsel om verdere besoedeling weens rioolstortings en stortings te voorkom.

Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, sê in die jongste brief: “Die gebrek aan dienslewering, en die gebrek daaraan om die gesondheid en welstand van die Barkly-Wes-gemeenskap te verbeter, is onaanvaarbaar en sal nie langer geduld word nie.” Modise is daaraan herinner dat plaaslike owerhede strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir aksies wat mense se gesondheid negatief beïnvloed of besoedeling veroorsaak. Plaaslike owerhede kan ook siviel aanspreeklik gehou word met betrekking tot die instandhouding, herstel en bedryf van infrastruktuur wat met die afvoer van riool (of water wat afval bevat) deur pype of ander materiale verband hou.

Modise is in albei skrywes gemaan om op AfriForum se eise te reageer, anders sal die burgerregte-organisasie:

  1. die nodige herstelwerk, soos hierbo uiteengesit, uitvoer en die munisipaliteit vir enige koste aanspreeklik hou; en/of
  2. strafregtelike klagte teen Modise lê (as munisipale bestuurder en verantwoordelike beampte van die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit, wat versuim om sy plig uit te voer).

AfriForum het teen 10 Desember 2018 geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie. Ná die spertyd reeds na 13 Desember 2018 en weer na 11 Januarie 2019 verleng is, is geen terugvoer egter tot op hede ontvang nie.
Smit doen ’n beroep op enige persoon in die Dikgatlong munisipale gebied wat klagtes oor dienslewering het of siek geword het weens die rioolprobleem om haar by 081 217 6801 te skakel of ’n e-pos aan lize-mari.smit@afriforum.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings