Dink of Sink-debatskompetisie na 17 jaar nóg groter


AfriForum is vanjaar vir die tweede maal deel van die Dink of Sink-debatskompetisie in die suidstreek, wat al vir die afgelope 17 jaar deur die gasheerskool Hoërskool D.F. Malan aangebied word.
Hoewel dié kompetisie al vir soveel jaar plaasvind, bly die getal leerders wat jaarliks deelneem steeds groei: Vanjaar het 120 sprekers van 16 verskillende skole aan die suidelike been van dié kompetisie deelgeneem.
Die uitdunne het Vrydagmiddag 19 Mei 2017 plaasgevind, gevolg deur ’n galageleentheid die aand waartydens die beste junior- en seniorspanne aangekondig is.
Hoërskool DF Malan het hierdie jaar koning in sowel die junior- as seniorafdeling gekraai.  Dié twee spanne sal later vanjaar teen die wenners in die sentrale en noordstreek te staan kom.
Die sentrale been van die kompetisie vind later vanjaar by C&N Oranje Meisieskool plaas, en die noordelike been by die Hoërskool Montana.  Die nasionale finaal sal in September 2017 by AfriForum se hoofkantoor in Pretoria plaasvind.

“AfriForum wil moedertaalonderrig deur hul betrokkenheid by dié debatskompetisie bevorder. Dit is die ideale geleentheid om Afrikaans as onderrigtaal uit te bou. Debatvoering is ook ’n belangrike vaardigheid wat reeds van kindsbeen af by leerlinge gekweek moet word,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

Volg die insetsels van dié kompetisie op KykNet (kanaal 144) se Groot Ontbyt wat van 5 tot 9 Junie 2017 tussen 6:15 en 6:30 uitgesaai word.

Soortgelyke plasings