|

Dís hoekom Kovsies Afrikaans moet behou.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) is in die proses om sy taalbeleid te hersien, maar hy kan beslis teenkanting verwag.

Eksterne belanghebbendes, alumni, verteenwoordigers van die plaaslike en nasionale regering, donateurs, finansiers, ouers en studente het vandeesweek geleentheid gekry om voorleggings te maak en aan dialooggesprekke hieroor deel te neem.

Die hersiening van die taalbeleid kom nadat die universiteitsraad in Junie vanjaar ’n mandaat aan die leierskap van die instelling gegee het om die taalbeleid te hersien.

Die mandaat is gegee in reaksie op sogenaamde algemene besorgdheid wat tydens ’n universiteitsvergadering uitgespreek is oor die moontlike ongeskiktheid van die huidige parallelmediumbeleid om diepgaande transformasie by die universiteit te ondersteun.

In die voorlegging wat AfriForum as eksterne belanghebbende gedoen het, het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof, daarop gewys dat dit jammer en ongelukkig is dat die beoogde proses reeds tot ’n groot mate gekontamineer is weens die feit dat prof. Jonathan Jansen, rektor, in die openbare domein veralgemenings gemaak het oor studente se behoeftes en probleme met ’n meertalige beleid.

Bailey het gesê die soort veralgemenings en verdagmakery moet teengestaan en veroordeel word en ’n neutrale, regverdige en deursigtige proses moet gevolg word.

AfriForum het navorsing gedoen en in sy voorlegging daarop gewys dat Afrikaans die grootste hoëfunksie taal in die Vrystaat is en dat dit sinvol en billik is dat Kovsies dit as voertaal en administratiewe taal moet behou. Volgens die 2011-sensus is daar 1,7 miljoen Sothosprekers in die Vrytaat, 340 490 Afrikaanssprekendes en slegs 78 782 Engelssprekendes.

“Engels is slegs die sesde grootste taal in die provinsie. Dit is wel ’n belangrike taal en die enigste ander hoëfunksie amptelike taal in die land. Dus kan beide Sotho en Engels in ondersteunende kapasiteit aangebied word en studente so vir ’n suksesvolle toekoms in ’n veeltalige, multikulturele land en wêreld voorberei,” het Bailey gesê.

Bailey het verwys na navorsing wat deur prof. Fernand de Varennes, internasionale taalkenner, gedoen is en wat bevind het dat:

  • Studente die reg tot Afrikaanse onderrig het ingevolge art. 29 van die grondwet;
  • Vir ’n taal om sinvol as onderrigtaal gebruik te word, dit noodsaaklik is dat woordeskat, grammatika en leermateriaal moet bestaan wat die gebruik daarvan op tersiêre vlak moontlik maak;
  • Die aandrang op eentalige Engelse onderrig aan ’n onderwysinstelling nie goeie praktyk is nie soos internasionale praktyke al gewys het; en
  • Die aandrang op Afrikaanse taalregte hoegenaamd niks met ras te make het nie.

Bailey het spesifieke voordele van die gebruik van Afrikaans vir die UV uitgewys soos dat die universiteit ’n trotse historiese verbintenis met die taal het en dat dit dinamies in onderrig en administrasie moet bly om te kan gedy. As dit uitgerangeer word en toenemend net Engelssprekende personeel aangestel word en klasse uiteindelik net in Engels is, sal dit op taalregteskendings neerkom.

Die UV is ook daarop gewys dat Afrikaans as dinamiese hoëfunksietaal op alle vlakke in alle wetenskappe gebruik kan word en dat die gebruik daarvan mense uit alle gemeenskappe, inkomstegroepe en rasse bemagtig.

Dit is ook onder die UV se aandag gebring dat kapitaalkragtige Afrikaanse studente se studiegelde verligting van finansiële druk op die universiteit bring wat weer die geleentheid skep om behoeftige studente te akkommodeer.

AfriForum versoek dat Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal behou moet word en dat met die owerhede vir ’n meer regverdige subsidiestelsel onderhandel word vir universiteite wat veeltaligheid bevorder. Die organisasie het ook versoek dat taaldwang, aantygings van rassisme en ideologiese argumente te alle tye uit gesprekke en die ontwikkeling van ’n nuwe taalbeleid gehou moet word.

AfriForum Jeug het ook ’n voorlegging ingedien en gesê terwyl daar begrip is dat taalbeleide in ’n veranderende wêreld van tyd tot tyd hersien moet word, kan Afrikaans egter nie die slagoffer van die hersiening van die beleid by UV wees nie.

“Die konsultasieproses moet nie gekaap word deur ’n nie-Afrikaanse agenda of politieke spel nie,” het Henk Maree, nasionale voorsitter, gesê.

AfriForum Jeug het versoek dat Afrikaans behou word en dat die universiteit taaldienste uitbrei om dosente te ondersteun wat sukkel om weens hoë werklading klasse in parallelmedium aan te bied.

Die Jeug stel ook voor dat ’n klagtekanaal geskep word waar studente probleme met taalkwessies kan opper en dit behoorlik gehanteer kan word.

Die UV kan verwag dat daar heelwat teenkanting teen die beoogde taalbeleidverandering sal wees aangesien meer as 3 000 Solidariteit-lede in ’n aanlyn-peiling aangedui het dat hulle daarteen is.

Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, het gesê dit blyk of Kovsies Afrikaans as onderrigtaal wil afskaf ondanks die publiek se teenkanting. “Dit is kommerwekkend dat die hersiening van die beleid reeds die jawoord gekry het voordat die publiek se besware aangehoor is.”

 

 

Soortgelyke plasings