|

Dis nou of nooit! Red Afrikaanse skole en lewer kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys

Sedert Februarie vanjaar is AfriForum besig met ’n veldtog teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys.

Hierdie poging om onderwyswetgewing te hersien wat groot gevaar vir die toekoms van Afrikaanse onderrig inhou, kom al van 2017 af. ’n Kennisgewing is pas weer gepubliseer wat die publiek nooi om voor 16:00 op 15 Junie 2022 kommentaar op die huidige weergawe te lewer.

Dit is van die allergrootste belang dat ons ons beswaar teen die huidige weergawe so duidelik as moontlik maak. Dit is nou of nooit!

Wat veral kommerwekkend is omtrent die voorstel, is dat dit die mag om finaal oor ’n skool se taal- en toelatingsbeleid te besluit van die ouerbeheerliggame wil wegneem en dit in die hande van die provinsiale onderwyshoofde wil laat.

In die geval van Gauteng sal dit byvoorbeeld beteken dat Panyaza Lesufi finaal sal besluit wat die taalbeleid van skole gaan wees, terwyl hy juis nooit ’n geheim daarvan maak dat hy enkelmedium Afrikaanse skole tot niet wil maak nie.

Die voorgestelde wysigings maak ook verder voorsiening daarvoor dat die departement selfs kan besluit oor die aanwending van ruimte in skole. In die verlede het die departement al verklaar spasies soos wetenskaplaboratoriums en rekenaarsentrums kan eerder gebruik word om nog kinders in skole te plaas. Die wysigings sal die soort stappe maklik moontlik maak.

Buiten AfriForum se petisieveldtog teen die wet, wat al deur meer as 10 000 ondertekenaars ondersteun is, het verskeie kundiges die afgelope tyd artikels hieroor geplaas, byvoorbeeld dr. Theuns Eloff wat dit in ’n artikel op Netwerk24 “die sterkste en bitterste aanval op Afrikaanse onderwys” sedert 1994 genoem het.

Dr. Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) het in ’n artikel op Biznews verklaar dat dit Lesufi se wraak is nadat hy die regstryd om die behoud van Afrikaanse enkelmedium onderrig by Hoërskool Overvaal verloor het. AfriForum het ’n puik paneelgesprek hieroor uitgesaai. Gaan kyk dit hier. Lees ook Alet Rademeyer se puik opsomming daaroor.

Dit is noodsaaklik dat enige persoon aksies teen die wetgewing ondersteun. Dit gaan oor die behoud van gehalte moedertaalonderrig – iets wat die toekoms van die land raak en daarom vir ALMAL van belang is, nie net vir ouers van skoolgaande kinders of onderwysers nie.

Ons moet die mag om oor ons skole te besluit, in die hande van ons skoolgemeenskappe hou. Die ANC-regering het bewys dat dit onbevoeg is om gehalte-onderrig te bevorder en dat dit ’n vyand van onderrig deur middel van Afrikaans is.

AfriForum gaan die petisie wat ons sedert Februarie 2022 teen die wetgewing dryf saam met ons regsmening as kommentaar teen dié voorstel indien. Teken sommer vandag nog ons petisie as jy nog nie het nie.

Die volledige wetsontwerp is beskikbaar by:

https://www.parliament.gov.za/storage/app/media/Bills/2022/B2_2022_Basic_Education_Laws_Amendment_Bill/B2_2022_Basic_Education_Laws_Amendment_Bill.pdf.

Mense wat individueel kommentaar wil indien, kan dit doen deur middel van:

Onthou, die sperdatum is 15 Junie 2022 om 16:00. Ons gemeenskap se toekoms hang af van die behoud van Afrikaanse moedertaalonderrig – help ons om dit te beskerm en ons skole uit die hande van die ANC-regering te red.

Soortgelyke plasings