|

Dit bly net ’n ANC-gepratery sonder enige optrede

Daar is ’n ou gesegde wat lui: Leë blikke maak die meeste geraas.

En hoe waar het dit nie van Suid-Afrika geword nie? Daar gaan behoorlik nie ’n enkele dag verby dat een of ander kabinetsminister hom of haar nie hieraan skuldig maak nie. Dink maar aan Bheki Cele, minister van polisie, Fikile Mbalula, minister van vervoer, Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie en natuurlik kan ons nie president Cyril Ramaphosa en die selfvoldane dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, uitsluit nie.

Dis juis Dlamini-Zuma wat burgers en gemeenskappe weer vandeesweek warm onder die kraag het met haar belaglike antwoorde rondom munisipaliteite wat in duie gestort het en dienslewering wat in talle dorpe letterlik tot stilstand geruk het.

Die agbare minister sê die week as munisipaliteite net die regte mense aanstel, sal hulle die regte vaardighede lok. En dan vir die kersie op die koek: “Dit is ons almal se verantwoordelikheid om munisipaliteite te ondersteun om hul werk te doen.”

Die minister is so uit voeling met die werklikheid dat dit eintlik bejammeringswaardig is.

Terwyl sy nou ook te kenne wil gee dat ’n gedragskode inwerking gestel gaan word sodat raadslede nie tot ineenstorting van die bestuur en dienslewering in munisipaliteite bydra nie, voel gewone mense dat sy ook maar net opsy moet staan omdat sy totaal onbevoeg is om haar werk te doen.

Die toestand by munisipaliteite was in die geskiedenis van die land nog nooit so swak nie. Die ouditeur-generaal het in Junie oor die munisipale oudits vir 2020-’21 bevind net 41 (16%) van die 257 munisipaliteite in die land het skoon oudits gekry.

Die ineenstorting van basiese dienste en die korrupsie op plaaslike regeringsvlak het ’n smeulende kruitvat geword.

Dit is net ’n kwessie van tyd voordat gewone mense se frustrasies gaan oorkook. Die eerste tekens daarvan is reeds duidelik sigbaar. Van Januarie tot Julie vanjaar het reeds 123 diensleweringsbetogings landwyd plaasgevind. En dit gaan toeneem!

Kevin Allan, hoof van Municipal IQ, sê die broeiende ontevredenheid in baie gemeenskappe het tot die skerp toename in betogings gelei.

Volgens kenners tree die regering nie proaktief op om die frustrasies van gemeenskappe te hanteer nie. Die ANC wil reageer wanneer mense die strate invaar, terwyl hulle nie besef dat mense nie net een oggend opstaan en besluit vandag gaan ons betoog nie. Dit kom oor ’n lang tydperk. Hulle voel die regering hoor hulle nie en erger nog, die regering gee nie om in watter haglike omstandighede hulle leef nie.

Terwyl die president en sy onbekwame en ondoeltreffende kabinet bontpraat en soos leë blikke raas, is dit gewone mense wat op grondvlak veg om infrastruktuur te herstel of van voor af op te rig.

Die burgerregte organisasie AfriForum se takke rol landwyd moue op om die een water- en rioolkrisis na die ander op te los, terwyl daar ook in die howe geveg word om die regering te dwing om sy verantwoordelikheid teenoor landsburgers na te kom. In die afgelope maande is strafregtelike klagtes teen etlike munisipaliteite ingedien. Kamieskroon, Garies, Dealesville, Hertzogville, Klerksdorp, Parys, Kroonstad, Welkom, Randfontein, Koster, Swartruggens, Frankfort, Villiers, Tweeling, Cornelia en Coligny is maar enkele voorbeelde waar AfriForum ingegryp of met hofsake begin het. Die  dilemma is egter dat die wiele van geregtigheid maar stadig draai om ’n positiewe uitkoms te bereik. Die belangrikste is dat ons egter nie moet ophou veg én werk nie.

Soortgelyke plasings