|

DOKTER GETUIG OOR BESERINGS AAN MISHANDELDE BABA

Die ortopediese chirurg wat ’n vyf maande oue baba behandel het nadat sy glo herhaaldelik deur haar ouers aangerand is, het vandag namens die staat getuig. Dr. Helene Basson het die babadogtertjie op 14 Julie 2020 behandel ná die kind na die Eugène Marais Hospitaal geneem is vir mediese sorg.  

Basson het getuig dat verskeie van die kind se bene gebreek was, insluitend haar sleutelbeen, femur en verskeie ribbes – haar ribbes het sowat 27 breuke in totaal gehad. Volgens Basson was die frakture vergelykbaar met herhaalde episodes van fisiese aksies, soos van ’n baba wat met albei hande rondom die lyf vasgehou en geskud is. 

Die saak teen die kind se ouers word dié week in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor. Die ouers van die baba is in Augustus verlede jaar in hegtenis geneem nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Julie 2020 dokters en ’n maatskaplike werker bygestaan het om strafregtelike klagtes in te dien. 

Die kind se dokters en ’n privaat maatskaplike werker het aanvanklik ’n saak by die SAPD en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aanhangig gemaak en aanbeveel dat die baba uit haar ouers se sorg verwyder moet word. Die saak teen die ouers is egter van die rol geskrap omdat daar volgens die landdros ’n gebrek aan bewyse was. Die baba is tydelik in haar ouma se sorg geplaas, waarna sy weer aan haar ouers terugbesorg is. 

Nadat die kind ’n tweede keer vir soortgelyke beserings gehospitaliseer is, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid weer eens klagtes teen die ouers ingedien. 

Albei die ouers het egter onskuldig gepleit.  

“Dit is onverstaanbaar hoe die saak in die eerste plek van die rol geskrap is ná ’n deskundige sélf die klagtes ingedien het omdat sy die tekens van kindermishandeling herken het. Boonop is die mishandelde kind toe weer eens teruggeplaas in die sorg van die mense wat haar leed aangedoen het. Dit is absoluut onlogies en wys net weer eens dat politici se herhaaldelike uitlatings oor geweld teen kinders en vroue blote lippediens is,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van Veldtogte. 

Soortgelyke plasings