|

Dokumentêr oor ANC se verdraaide geskiedenis maak opslae in VSA

Die produksiemaatskappy Forum Films, ʼn inisiatief van die burgerregte- organisasie AfriForum, het vandeesweek met ʼn toer in die VSA afgeskop om die dokumentêre film Tainted Heroes internasionaal te versprei.

Dié vertonings vind plaas as deel van die derde fase van die burgerregte-organisasie se filmverspreidingstrategie, waar die dokumentêr in Washington, New York, Chicago en Los Angeles vertoon en versprei sal word.

Dié dokumentêr is reeds verlede jaar in teaters regoor Suid-Afrika vertoon asook gratis as DVD aan AfriForum-lede versprei.

Die dokumentêr handel oor die ANC se gewapende stryd-strategie en verduidelik hoe dié party ’n vooraf opgestelde program van geweld, vrees en propaganda suksesvol geïmplementeer het om politieke teenstanders uit te skakel en homself as die enigste verteenwoordiger van swart aspirasie in Suid-Afrika te vestig.

Volgens Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films, is die doel van die toer nie bloot om die film te bemark nie, maar ook om die verdraaide beeld wat die wêreld oor die ANC en die struggle van die 1980’s het, in perspektief te stel.

“Ons het besluit om in die VSA te begin, aangesien die VSA een van die grootste rolspelers in die internasionale politiek is. Ons benadering is ook soos dié van ’n skerpskutter, eerder as ’n haelgeweertaktiek. Dus is ons doel nie noodwendig om massas mense met die oorsese vertonings te bereik nie, maar om dié wat die grootste invloed op wêreldpolitiek het, te bereik,” meen hy.

Die toer bestaan uit drie bene, naamlik vertonings van die film, vergaderings met internasionale navorsers, meningsvormers en politici asook verskeie afsprake met lede van die Amerikaanse media.

Roets en Elrich Yssel, regisseur van dié film, is tans in Washington DC waar hul onder meer genooi is om ’n byeenkoms van konserwatiewe leiers oor die film se tema toe te spreek. Die dokumentêr sal ook vanaand by die George Mason Universiteit vertoon word.

Die toer sal ook later vanjaar in ander dele van die wêreld voortgesit word.

Roets sê voorts dat ’n dokumentêre film oor die toer en die buiteland se indrukke van Tainted Heroes ook gedurende die toer verfilm sal word.

Soortgelyke plasings