|

Dokumentêr oor grondbesit in SA bring nuwe insig

’n Aangrypende, ontstellende, maar uiters noodsaaklike dokumentêre film oor die geskiedenis van grondbesit in die land is gisteraand deur AfriForum en Forum Films in Menlyn Park in Pretoria bekendgestel.

Disrupted Land is deur Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, en ’n vervaardigingspan (Alexa Reinecke, Louis Gagiano en Elrich Yssel) van Forum Films gemaak.

Die dokumentêr, wat net langer as ’n uur is, begin met pres. Cyril Ramaphosa se uitsprake dat onteiening sonder vergoeding in die toekoms ’n realiteit sal wees.

Baie en deeglike navorsing is gedoen om te verduidelik wat die verskillende ideologieë rondom grond en grondbesit in die land is, wie eerste grond besit het, hoe grondbesit gereël is, hoe grond bekom is, wie eerste in die land was en hoe swart stamme van die noorde van die kontinent na die suide migreer het.

Roets sê die dokumentêr is gemaak omdat die waarheid oor grond moet uitkom en die ANC en EFF se propaganda dat wit mense alle grond gesteel het, beveg moet word.

“Die dokumentêr wys uit dat die debat oor grondhervorming op drie groot leuens geskoei is. Eerstens is dit gebaseer op ’n growwe verdraaiing van die geskiedenis, tweedens is die sogenaamde honger na landbougrond onder swart mense ’n mite en derdens sal grondonteiening sonder vergoeding nie welvaart vir mense bring nie, maar eerder die ekonomie totaal vernietig tot so ’n mate dat Suid-Afrika die pad van Zimbabwe en Venezuela kan volg.”

Volgens Roets wys die dokumentêr dat wit mense grond op drie maniere bekom het, naamlik deur vestiging op onbewoonde grond, deur onderhandelings en verdrae, en deur verowering, wat die mees omstrede maar minste omvattend is.

Talle kundiges, navorsers, politici, ekonome, historici en landboukundiges, is tydens die maak van die dokumentêr betrek om op grond van feite die waarheid rondom grond en die grondkwessie toe te lig.

Mosiuo Lekota, leier van Cope, wys op die ANC en EFF se leë beloftes dat mense grond gaan kry deur onteiening sonder vergoeding, terwyl dié partye leuens verkondig dat wit mense alle grond gesteel het.

Liza-Marie Oberholzer en prof. Louis Changuion, het as historici diep in die geskiedenis gedelf en verduidelik omvattend wie wanneer in die land aangekom het en hoe grond in besit geneem is. Petrus Vaalbooi, leier van die San-gemeenskap, se bydra oor die Khoi en San se status en posisie in die land, ook ten opsigte van grondbesit, asook die huidige regering se ingesteldheid en benadering, is ook van onskatbare waarde.

Die harde en verdoemende werklikheid oor die implikasies van die regering se planne rondom grond, grondonteiening en hervorming word uitstekend deur Russell Lamberti, ekonoom, en dr. Anthea Jeffery, politieke kommentator verbonde aan die Instituut vir Rasseverhoudinge, uiteengesit.

Jeffery maak die geldige punt dat die ANC se ideologie op sy nasionaal demokratiese revolusie gegrond is wat uiteindelik niks anders as kommunisme en sosialisme is nie. “Die regering het geen werklike bedoeling om enige grond of titelaktes aan swart mense te gee nie. Die ware doelwit is uiteindelik dat alle grond en uiteindelik ook eiendom is die hande van die regering gesetel moet wees.”

Die dokumentêr is ook openbarend in die sin van die blik wat dit op die mislukking van grondhervorming gee. Talle voorbeelde van mislukte grondhervormingsprojekte word uitgewys en sogenaamde nuwe eienaars verduidelik breedvoerig hoe hulle deur die staat en departemente in die steek gelaat is en uiteindelik nie werklik ’n bestaan op landbougrond kan maak nie, maar vandag eerder krepeer en in armoede voortsukkel. Nie net het hulle geen hulp van die staat gekry nie, maar ook geen opleiding of leiding nie.

Disrupted Land stel nie net die bedrieglike weergawe wat vandag van die geskiedenis vertel word aan die kaak nie. Dit wys ook op die rampspoedige uiteinde wat op Suid-Afrika en sy mense wag as oplossings vir die grondkwessie nie spoedig gevind word nie.

Die volledige film sal van Maandag af op Youtube wees. Die lokprent is te sien by: https://www.youtube.com/watch?v=93TKGzYx8yg

Soortgelyke plasings